Kontrakteurs het hierdie week begin met die vervanging van verouderde asbespype in Parkweg. Die Hoorn het Dinsdag besoek afgelê en bevestig dat ’n nuwe waterpyplyn van ongeveer 2km vanaf Noordstraat tot by NA Smit-swembad aangebring word.
Die vervanging sluit ook twee gedeeltes in van ongeveer 100m elk in Noord- en Victoriastraat. Die gedeelte in Victoriastraat is ’n kort gedeelte wat nog nie afgehandel was toe die res van die pype in dié straat vervang is nie.
Met Die Hoorn se besoek het die ingenieur verduidelik dat daar nie bloot met meganiese toerus-ting ’n diep sloot gegrawe kan word vir die lê van die nuwe pyp nie, aangesien huise en besighede langs Parkweg steeds hulle aansluitings met die bestaande pyplyn moet behou.
“Elke bestaande aansluiting moet eers opgespoor word en oopgegrou word sodat dit nie deur die masjienerie beskadig word nie. Soos wat die nuwe pype gekoppel word, sal die aansluitings ook stelselmatig herkoppel word om so min onderbreking as moontlik te veroorsaak.”
Daar is met die huidige begroting R3 miljoen begroot vir die vervanging van asbespype. Verlede jaar is ook ongeveer R3 miljoen spandeer om die pyplyn vanaf die water-reservoir verby die Mediclinic tot in Pauline Smithstraat te vervang.
Die meeste waterpype in Oudtshoorn is asbes-pype wat ouer as 50 jaar is en gereeld bars en padoppervlaktes beskadig. Die koste om bykans honderde kilometers waterpype in die groter Oudtshoorn te vervang is enorm en derhalwe word daar jaarliks begroot om gedeeltes wat dringend is te vervang.
In ’n verklaring sê Aurelia Mle, woordvoerder van Oudtshoorn-munisipaliteit, dat die werk aan die pyplyn in Parkweg teen die einde van Mei voltooi sal wees. Motoriste word daarop gewys dat gedeeltes van Parkweg waar gewerk word afgesper is en vra dat motoriste versigtig moet bestuur en agslaan op die padtekens en werkers wat verkeer reguleer. (HANNES VISSER)
Noodsaaklike waterpyplyn word vervang
Die eerste uitgrawing vir die nuwe pyplyn by die aansluiting van Noordstraat en Parkweg. Foto: Hannes Visser