Dood van 17-jarige stuur skokgolwe deur gemeenskap

Doe botsingstoneel. Foto's verskaf

DIE Calitzdorp Polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n 17-jarige seun van die dorp in die vroeë oggendure gesterf het toe ’n munisipale bakkie in ’n muur vasgery het.

Volgens sers Christopher Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, dui voorlopige ondersoek daarop dat die voertuig met die R62 vanuit Oudtshoorn se rigting na Calitzdorp gery het toe dit ’n muur by Voortrekkerweg getref en omgeslaan het. Met die aankoms van die polisie op die toneel omstreeks 03:45 het hulle die bakkie met die liggaam van die jeugdige op die toneel gevind. Hy het veelvuldige beserings opgedoen en is op die toneel deur paramedici dood verklaar.

Dit is nie bekend wie die voertuig bestuur het nie.

“Uit verdere ondersoek blyk dit dat drie ander insittendes van die voertuig van die toneel gevlug het. Speurders is besig om die drie te probeer opspoor,” sê Spies.

Dit het ook aan die lig gekom dat die bakkie aan die Calitzdorp Munisipaliteit behoort en as gesteel aangemeld is. ’n Saak van diefstal is intussen geopen.

Spies sê die oorsaak van die botsing is onbekend.

Intussen het die dood van die seun, klaarblyklik ’n belowende jong rugbyspeler, skokgolwe deur die gemeenskap gestuur met talle inskrywings van hartseer en medelye op sosiale media. (Deur Liesel le Roux)

1 Comment on "Dood van 17-jarige stuur skokgolwe deur gemeenskap"

  1. carel vd merwe | 09/03/2021 at 17:05 |

    ek glo die bakkie het begin rol en toe oor die muur gerol.. dis n snaakse ongeluk. dood reguit straat en die skuurmerke lyk of daar geen beheer was nie

Comments are closed.