’N GRATIS inleidingskursus in film en digitale media word eersdaags op Outshoorn aangebied – ’n wonderlike geleentheid vir jong Oudtshoorniete wat tussen 18 en 35 jaar oud is, ’n matrieksertifikaat het en nie voltyds werk nie!
Die kursus, wat van Maandag 19 April tot Vrydag 23 April aangebied word, is ’n inisiatief van die KKNK in samewerking met iKasi Creative Media en word ondersteun deur die Oudtshoorn Munisipaliteit en die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport. Die kursus is ’n unieke geleentheid om ’n basiese begrip van die film- en TV-bedryf op te doen. Plek is egter beperk en belangstellendes met gou speel.
“Dié inleidingskursus is ’n uitsonderlike geleentheid, nie net vir jong Oudtshoorniete om nuwe vaardighede aan te leer nie, maar ons wil met die projek ook mense se stories uit die Klein Karoo vertel deur video’s wat met ’n selfoon of tablet opgeneem word,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. Deelnemers sal meer leer oor werkgeleenthede in die bedryf, watter vaardighede nodig is vir ’n suksesvolle loopbaan en hoe ’n filmstel werk.
iKasi Creative Media is die geesteskind van die aktrise Lika Berning. “Die doel van iKasi Creative Media is nie net om praktiese vaardighede in digitale media na landelike gebiede te bring nie, maar ook om stories te vertel en die erfenis van gemeenskappe te deel,” sê Berning.
MAAK SO AS JY WIL DEELNEEM
Stuur ’n WhatsApp na 081 219 3526, of gaan na kknk.co.za, klik op projekte en kies iKasi-kursus. Die kursus is gratis, maar plek is beperk. Die organiseerders sal suksesvolle aansoekers kontak.
Indien jy enige hulp nodig het om aansoek te doen, kontak Shandré Harris by die KKNK-kantoor op 044 203 8600 of stuur ’n e-pos na shandre@kunste.org.za vir enige raad, invul-, afrol- of skandeerwerk, soos nodig.