David Piedt – altyd vurig gekant teen ongeregtigheid

Gedenkdienste is verlede week voor die huis van dr David Piedt (80) in Sewende Laan, Colridge View gehou deur die ou Bridgton Civic, Wyk 1 van die Volkskerk van Afrika en die Vollies, oud-studente van die voormalige Onderwyskollege Suid-Kaapland (OKSK).

Piedt is op Maandag 27 Julie 2020 in die George Mediclinic aan Covid-19 oorlede.

‘n Roudiens vir hom vind Dinsdag om 11:00 in die Volkskerk van Afrika op Oudtshoorn plaas.

By Donderdag se gedenkdienste het inwoners blommeruikers en foto’s teen die muur by die Piedt-woning aangebring as blyk van laaste eer aan ‘n geliefde inwoner en allemansvriend.

Ds Samuel du Plessis het tydens die wyk se diens die familie na aanleiding van Lukas 7 en Psalm 23 getroos en hulde gebring aan Piedt vir sy onbaatsugtige bydrae tot die kerk se geskiedenis. Volgens Du Plessis sal hy Piedt onthou vir sy ywer en het hy hom beskryf as ‘n merkwaardige man wat ‘n groot rol in sy kerk en op gemeenskapsvlak gespeel het.

“Ons groet ‘n ware dienaar van die Allerhoogste en ek sal sy lang treë mis,” het Du Plessis afgesluit..

Tydens die gedenkdiens Vrydag deur die Vollies was die voormalige president van die Kaaplandse Professionele Onderwysersunie (KPO) en boesemvriend van Piedt, Franklin Sonn, ook ‘n spreker.

“David was ‘n vuurvreter en ‘n kwaai man. Nie vir die ANC of die struggle nie, maar teen ongeregtigheid.”

Volgens hom was Piedt net soos tydens die vorige bedeling ook omgekrap oor die onreg van vandag.

Dit is vir hom ook ironies dat die virus die fikse man se lewe kortgeknip het terwyl hy nog voor die aankondiging van handewas sy hande meer as gereeld gewas het

Hy het Piedt gehuldig as ‘n legende in eie reg. “David het ‘n groot rol in die KPO gespeel toe daar ‘n morele verval onder onderwysers was en ons het in 1975 van skool tot skool gery om onderwysers te organiseer.”

Op ‘n ligter noot het Sonn gesê: “David was die enigste man wat ek geken het wat hom gestort, sy kop geskeer, hom netjies aangetrek en dan sy motor gaan was en die swembad skoongemaak het.”

Hy het ‘n beroep op die Vollies gedoen om hul kinders te vertel van Piedt se lewe. “Ons kan nie toelaat dat ons kinders in die war is en nêrens gaan nie. Anders was die stryd van ‘n Reggie Oliphant en David Piedt verniet.”

Drie groot kerse is op die sypaadjie deur twee Vollies ter ere van Piedt aangesteek en die diens is afgesluit met die sing van die Vollies se weergawe van “Onse Vader”.

  • Dinsdag se diens sal streng volgens Covid-19-regulasies geskied met slegs 50 familielede en naaste vriende binne die kerk. Die publiek is egter volgens Jonathan Wicomb van die Volkskerk baie welkom om binne die voorgeskrewe afstand van 1,5 m en met maskers die diens buite die kerkgebou op ‘n groot skerm en luidsprekers te volg.

Die diens word ook digitaal uitgesaai, onder meer vanaf die KKNK se Facebook-blad by http://www.facebook.com/kknk.fees/

(Deur Garnett Wicomb)