OUDTSHOORN is die week in rou gedompel deur die dood van dr David Piedt (80) aan Covid-19. Piedt, ’n man wat diep spore in die Klein Karoo getrap het, is Maandagaand (27 Julie 2020) oorlede nadat hy in die waakeenheid van die Mediclinic George behandel is waar hy onder meer hoëdruksuurstof en fisioterapie ontvang het. Hy was 11 dae in die hospitaal.
Hy was een van Oudtshoorn se mees geagte inwoners en leiers, ’n oud-skoolhoof toegewyde onderwysman en voormalige direksievoorsitter van die KKNK. Hy het in 2012 ’n ere-doktersgraad van die Universiteit Stellenbosch ontvang vir sy bydrae tot die onderwyssektor, die bevordering van Afrikaans en sy gemeenskapsbetrokkenheid.
Sy vrou, Marjorie, wat ook positief vir die virus getoets het, het intussen herstel. Sy is gebroke na sy dood en het Dinsdag gesê sy het tot op die laaste geglo hy sal herstel en voel baie alleen na sy dood.
Volgens haar probeer die familie tans reëlings tref vir haar dogters Che en Tracey wat albei in die buiteland is, om terug te keer Suid-Afrika toe om haar te ondersteun.
Piedt was gesond en steeds aktief betrokke by die gemeenskap toe hy siek geword het. Hy het in Februarie en Maart vanjaar nog briewe aan Die Hoorn geskryf oor rassisme en gepleit dat mense dit eerlik moet hanteer en voortdurend moet “strewe om ’n wêreld sonder rassisme te skep.”
Hy is vroeër vanjaar deur die fees vereer met die Kunste Onbeperk-prys vir sy bydrae. “Dr David Piedt is onverskrokke in sy ondersteuning en passie vir die KKNK, en vir die mense van Oudtshoorn en Suid-Afrika. Sy medemenslikheid is een van die redes waarom hy hierdie prys verdien,” het die motivering vir dié toekenning gelui.
Die Hoorn was bevoorreg om in 2019 twee redelik omvattende onderhoude met Piedt te doen – die een oor die die invloed van die KKNK op sy lewe nadat hy “toegelaat het dat sy liefde vir Afrikaans sy woede en haat en ongeduld van voor 1994 verander het na lankmoedigheid en geduld”; en die ander oor sy passie om onderwys- en opleidingsinstellings soos ’n onderwyskollege weer op die dorp gevestig te kry. Hieraan het hy sedert 2008 gewerk saam met twee ander oud-onderwysmense, wyle Lionel Tait wat rektor was van die van die Onderwyskollege Suid-Kaapland (OKSK) en Tommy Johnson, asook die Oudtshoorn Munisipaliteit.
“As ons dit regkry om iets hier te vestig, dan sal ek tevrede sterwe,” het hy in sy gesprek aan Die Hoorn gesê.
• Huldeblyke en simpatiebetuigings het die afgelope week ingestroom. Die waarnemende burgemeester van Oudtshoorn Noluthando Mwati, het Piedt bestempel as een van die grootste leiers wat Oudtshoorn nog gehad het en die munisipaliteit se innige meegevoel met sy familie uitgespreek.
“Sy dood het die Klein Karoo beroof van een van sy grootste denkers en gemeenskapsaktiviste. Hy het pionierswerk gedoen vir die vestiging van die Groter Oudtshoorn as ’n sentrum vir opleiding en kennis, en was die koördineerder van die opvoedingsektor van die munisipaliteit se Visie 2030 wat onder meer ’n universiteit-satellietkampus op Oudtshoorn wou vestig.”
Die Wes-Kaapse minister van kulturele sake en sport, Anroux Marais, het gesê Piedt se dood laat ’n leemte in die kunstegemeenskap. “Hy was ’n ware rolmodel as iemand wat in die skoonheid en krag van die kunste geglo het. Die Wes-Kaapse regering treur oor die verlies van hierdie groot stem in die Wes-Kaap.”
Volgens David Jantjies, nasionale vise-president van die Civil Servants Pension Redress Movement (CSPRM) waarvan Piedt voorsitter was, sal Piedt Vrydag (31 Julie 2020) volgens Covid-19-protokol veras word. Geen begrafnis sal gehou word terwyl gepoog word om sy dogters na Suid-Afrika te bring nie. Die Volkskerk van Afrika en Colridge Primêr reël ook beide ’n verbyry-stoet vir dié week.
• Lees gerus op diehoorn.com hoe dr Piedt in sy eie woorde vertel van die transformasie wat die KKNK in sy lewe veroorsaak het by: diehoorn. com/kknk/van-onverdraagsaamheid-na-lankmoedigheid. asook oor sy passie vir die vestiging van opleidingsinstellings op Oudtshoorn: diehoorn.com/ gemeenskap/gedryf-om-n-verskil-te-maak/
(Deur Liesel le Roux)