Deur Schalk le Roux
NA aanleiding van ’n meningstuk wat verlede week op bladsy 5 van die Die Hoorn verskyn het onder die titel: “Tweespalt in die raad en munisipaliteit bekyk”, was daar ’n oorvloed van beskuldigings dat Die Hoorn subjektief en ’n mondstuk van die DA is en selfs dat Die Hoorn betaal word vir berigte oor die DA wat in die koerant verskyn.
Daar was ook neerhalende en beledigende opmerking teen my as uitgewer van Die Hoorn.
Die aanval teen Die Hoorn en myself is klaarblyklik omdat ek die opmerking gemaak het dat die verdeeldheid onder die DA-raadslede die afgelope jaar of wat plaasgevind het ten tye van die burgemeesterskap van Colan Sylvester, wat op 9 Junie as burgemeester bedank het net voordat dit bekend geword het dat die DA se regskommissie hom aan verskeie klagtes skuldig bevind het.
Die Hoorn het die betrokke meningstuk ook op ons webblad (diehoorn.com) geplaas en dit op ons Facebookblad gedeel. Dit is hier waar die kommentare gelewer is.
Ondanks herhaalde versoeke dat die kommentators hul stellings van partydigheid motiveer met voorbeelde daarvan in Die Hoorn, het niemand dit gedoen nie.
Terwyl Sylvester die afgelope ruk sonder om enige verduideliking aan ons te gee, nie meer ons navrae beantwoord nie, is ek ’n maand of wat gelede ingelig dat hy ’n onderhoud toegestaan het aan Hein Coetzee wat op sy Facebookblad Hein Coetzee-Journalist geplaas is.
Aangesien Coetzee homself uitdruklik ’n joernalis noem, het ek (Schalk le Roux) die vrymoedigheid geneem om kommentaar op sy blad te lewer. Soos ek joernaliste ken, raak hulle opgewonde as baie mense hul berigte/plasings lees – hoe meer lesers hoe beter, want hoe meer mense dit lees en daarop kommentaar lewer, hoe ’n groter trefwydte het die berig/plasing.
Maar pleks van om my vrae te beantwoord het Coetzee neerhalende opmerkings oor my en Die Hoorn gemaak. Hy sê onder meer ek is nie kwart die joernalis wat hy is nie en beskuldig ons van “boendoejoernalistiek”. Ek het Dinsdag weer na Coetzee se Facebookblad gekyk, maar dit lyk of al my kommentaar intussen van sy blad verwyder is
Ek het stellings van Sylvester aan Coetzee met erkenning aan Coetzee in Die Hoorn aangehaal. Op grond hiervan het Coetzee Die Hoorn op ons Facebookblad daarvan beskuldigings dat ons ’n mondstuk van die DA is en neerhalende opmerkings oor Die Hoorn en myself gemaak.
Hy skryf onder meer: “Hoekom sal ek my dan steur aan ’n sakeman wat probeer om ’n joernalis te wees. Jou koe-rant het munisipale fondse nodig om te survive.
“’n Tyd terug het jy lank trane gehuil toe Lottering en Kie jou geboikot het. Maar watch this space. Jy gaan weer huil oor advertensies.”
Die feit is die munisipaliteit is ’n groot en gewaardeerde kliënt van Die Hoorn. Ek maak onomwonde die stelling dat daar geen publikasie is wat beter diens aan die munisipaliteit tov die plasings van kennisgewings lewer nie, en ons doen dit teen billike pryse. Dit is veelseggend dat Coetzee Die Hoorn as’t ware leedvermakerig dreig: “Jy gaan weer huil oor advertensies.” Die Hoorn is al voorheen twee keer deur die munisipaliteit geboikot omdat ons die waarheid geskryf het en het die boikotte oorleef. As dit weer gebeur in hierdie tyd van die Covid-19-pandemie sal dit waarskynlik die doodskoot van Die Hoorn in gedrukte formaat wees. Maar
Die Hoorn se stem sal nie stil raak nie.
Die Hoorn plaas ook graag die volgende aanhaling van David Scott: “Pay notice to those who criticise you while respecting your dignity. Their opinions are normally worth hearing. Understand that those who criticise you without respecting your dignity are projecting their own insecurities onto you. Either ignore them or be nice to them, but don’t take their opinion too seriously.”
Coetzee skryf na aanleiding hiervan: “Jy is die laaste een wat van dignity moet praat. Of is dit dignity wat ’n sogenaamde onafhanklike koerant in ’n politieke party se gat laat opkruip?”
“Ek sal altyd vyf treë voor jou wees want ek is op niemand se payroll nie. Ek sal Maandag so ’n bietjie skryf oor die Hawks, die joernalis en die gekonfiskeerde rekenaar.
“Terloops: Is die berig deur die DA geborg? Of doen jy dit gratis?”
Die waarheid, die DA betaal ons nie ’n sent vir enige berig nie. Hulle sal wel moet betaal as hulle adverteer, soos enigeen anders.
Coetzee skryf voorts: “En van wanneer af stel jy belang om die bruin of swart kant te skryf? Jy en jou vaal koerantjie het nog altyd DA POLITIEK bedryf. Dis eintlik lagwekkend dat ’n ou suurknol soveel spasie gee aan ’n Facebook joernalis.
“Dalk moet jy begin balls groei. Dan sal jy minder minderwaardig of bedreig voel deur my. Swak joernaliste doen dit wat jy doen.”
Hoe reageer ’n mens nou op sulke onsinnige aantygings? Dis lagwekkend.
Anthony P Andrews skryf onder meer: “… dit is duidelik dat die Hoorn as n instrument gebruik word om hulle korrupsie te probeer verdoesel en goed te praat.”
Hierdie stelling is blatant onwaar.
“Julle manier van skryf sê alles of dink julle nog steeds julle het met die dom mense van post 1994 te doen en moenie my probeer dreig nie, jy moet eerlik met jouself en jou lesers wees dat julle n eensydige koerant is wat bestaan vir sekere mense.”
Die Hoorn dink aan geen mense in terme van “dom” nie. Hier by Die Hoorn is dit ’n staande opdrag dat alle mense, ongeag kleur of wat ook al, of hulle arm of ryk is, gerespekteer word.
Andrews skryf ook: “…daar is ’n groep mense hier in Oudtshoorn wat die politieke wil en die hulp van regslui het om hierdie situasie nog meer op ander vlak te vat. Ek kan jou verseker dat die stryd om Oudtshoorn se administrasie reg te ruk en om die sweer van korrupsie wat nou al jare onder die dekmantel is, oop te vlek tot op die been, ek maak nou die verklaring onomwonde dat die mag van die DA in Oudtshoorn verbreek gaan word en ook in die Weskaap. Alle platforms gaan gebruik word om die kwaad in ons land met wortel en tak uit te roei.”
As die mense na wie die skrywer verwys al “die kwaad in ons land met wortel en tak” uitroei, sal dit wonderlik wees, want hier is baie kwaad – nie net in ons land nie, maar ook op ons dorp.
Sam Coetzee skryf: “My kritiek is ’n wye veralgemening want geen nuusblad neem ons as inwoners in julle vertroue.
“Jul besigheid is nuus en aktualiteit maar geen persoon wat ek ken vertrou op ons plaaslike media vir belangrike nuus.
“Die verdeeldheid in Oudtshoorn is ook te danke aan afwesigheid van goeie media.”
Om die “media” op Oudtshoorn daarvan te beskuldig, is verregaande. Die Hoorn predik versoening en spreek hom uit teen kwelsugtigheid, die saai van wrewel en die verspreiding van onwaarhede.
Laastens, ’n boodskap aan Sylvester en sy ondersteuners:
• Niemand het Sylvester gedwing om die DA se burgemeester op Oudtshoorn te word nie. Na my mening is een van die belangrikste pligte van ’n burgemeester, van watter party ook al, om vertroue, versoening en eenheid in sy raad, die munisipaliteit en op sy dorp te bewerkstellig en om al die inwoners met toewyding, openheid en eerlikheid te dien. Sylvester moet self vir die inwoners vertel of hy daarin geslaag het.
• Sylvester het talle bewerings van korrupsie teen die munisipale bestuurder, Allen Paulse, gemaak. Die Hoorn weet nie of hy die regte prosedures gevolg het by die indiening van die klagtes en of sy klagtes geldig is nie, maar die feit is dat daar ’n “vertroulike” verslag deur die regsfirma Webber Wentzel opgestel is en reeds by die raad ingedien is. Die Hoorn sê dit móét hanteer word en verdere ondersoek en dissiplinêre en/of regsprosesse moet volg. Intussen is Paulse se reaksie op die beweringe teen hom ook by die raad ingedien wat deel van die proses is. Ondanks die feit dat die WW-verslag nog sub judice is, is gedeeltes van die inhoud van die verslag egter op sosiale media uitgeblaker en het Sylvester media-onderhoude daaroor gedoen. (Hy verkies om nie met Die Hoorn te kommunikeer nie.) Lesers moet self besluit of Sylvester se optrede professioneel en billik is, en of dit ’n politieke spel geword het om steun te werf.