Bewerings oor miljoene in trustfonds ‘onwaar’

Beweringe en aantygings rondom miljoene rande wat in ’n “geheime trustfonds” betaal is, is onwaar, sê Chris Macpherson, nuwe raadslid van die DA in Sylvester Colan se plek en kandidaat van die DA vir die burgemeesterskap van Oudtshoorn, in ’n persverklaring.

Macpherson het gereageer op ’n nuusverklaring wat Brett Herron, Good-lid van die Wes-Kaapse provinsiale regering, onder die opskrif “DA captures airport rent and landing fees in Oudtshoorn” uitgereik het.

Herron grond sy beweringe op ’n stemopname wat in 2012 of 2013 gemaak is van ’n informele gesprek tussen onder andere Macpherson and Charles Meyer, ’n voormalige lid van Oudtshoorn se ouditkomitee. Daar is minstens een ander mens wat ook tydens die stemopname praat.

Macpherson sê die gesprek het op uitnodiging van Meyer plaasgevind en is sonder sy medewete opgeneem.

In sy persverklaring verduidelik Macpherson dat Meyer in die opname na “miljoene rande se vrugtelose uitgawes’ verwys. “Meyer het toe verduidelik die munisipaliteit gebruik miljoene rande se dienstegeld om die lughawe te kruisbestuif, wat ’n wanvoorstelling was.”

Macpherson sê hy het destyds met die voorsitter van die Oudtshoorn Aeroklub gesels en vasgestel dat die klub ooreenkomstig hul kontrak met die munisipaliteit 50% van die landingsfooie aan die munisipaliteit oorbetaal. (Sien berig onder waarin die fooie betaalbaar deur die Aeroklub en Aifa/Tfasa volledig deur die voorsitter van die Aeroklub verduidelik word.)

Macpherson sê in die opname verwys hy verkeerdelik na ’n trustrekening waarin die Aeroklub alle landingsfooie betaal het. “Ek het aanvaar dit is ’n trustrekening, maar dit was ’n gewone bankrekening.”

Hy sê die enigste “geheim” waarna hy verwys het, was in verband met sy deelname aan die “2030 VISION-projek. “Ek as ’n opposisieraadslid het agter die skerms gewerk om die projek te bevorder omdat daar geen politieke wil by ander raadslede was om dit te doen nie.”

Volgens Macpherson was hy bekommerd oor die feit dat Tfasa/Aifa in ’n stadium nie landingsfooie betaal het nie.

“Ek het die saak met die nuwe voorsitter van die aeroklub bespreek. Hy het bevestig dat die klub kragtens die bestaande huurkontrak 50% van die landingsfooie wat die klub ontvang aan die munisipaliteit oorbetaal. Die ander 50% is in hul bankrekening gehou vir bestuursuitgawes. Ek het fou- tiewelik aangeneem die rekening is ’n trustfonds soos ek in die stemopname daarna verwys het.”

Volgens Macpherson het die voorsitter van die Aeroklub hom verlede week weer die versekering gegee dat daar noukeurig en profesioneel rekord gehou word van al die Aeroklub se finansies en dat al die gelde verskuldig aan die munisipaliteit op datum betaal is.

Macpherson sê hy het destyds as opposisie-raads­lid ’n ondersoek na die finansiële beheer van die lughawe geïnisieer. “Ek het toe op 7 Desember 2012 ’n resolusie by die raad ingedien waarin die munisipaliteit opdrag gekry het om ondersoek in te stel en ’n volledige verslag met aanbevelings moet opstel met aanbevelings oor die toekomstige bestuur van die lughawe,” het hy gesê.