Deur Schalk le Roux
DIE Oudtshoorn Aeroklub word op ’n bekwame en eerlike manier met kundigheid bedryf, en het absoluut niks om weg te steek nie, het dr Johan Strasheim, voorsitter van die klub, vandeesweek gesê.
Al die landingsfooie wat die klub en Aifa/Tfasa aan die Oudtshoorn munisipaliteit verskuldig is, is reeds betaal, het hy beklemtoon.
Die Hoorn het hom ook uitgevra oor beweringe van ’n geheime trustfonds waarin ’n gedeelte van landingsfooie by die lughawe oorbetaal is.
“Ek is bewus van geen trustfonds waarin enige landingsfooie betaal is nie, het hy gesê.
Strasheim, wat sy eie vliegtuig het, het hom in 2012 by die areoklub aangesluit en is weens sy ondervinding en kennis van die lugvaart vroeg in 2013 tot voorsitter van die klub verkies.
Strasheim, ’n gekwalifiseerde ingenieur, het in 1995 sy vlieglisensie verwerf. Hy was by die Wonderboom Lughawe lank die voorsitter van die lughawe se gebruikersforum. In dié hoedanigheid het hy aan bestuurvergaderings van die lughawe-bestuur deelgeneem. “Ek het geleer van hoe lug-hawens werk.”
Hy sê hy het vasgestel dat die Aeroklub in 2002 ’n kontrak met die munisipaliteit gesluit het waarvolgens ’n nominale huurbedrag vir die gebruik van sekere geboue by die vliegveld betaal is. Volgens die ooreenkoms sou die klub die lughawe namens die munisipaliteit bestuur en sou hulle 50% van die landingsfooie aan die munisipaliteit oorbetaal wat die klub pligsgetrou gedoen het, sê hy.
“Dit is baie belangrik om daarop te let dat relatief min besoekende vliegtuie op die aanloopbaan kom land het wat beteken dat baie min landingsfooie verdien is. Klublede, wat van landingsfooie kwytgeskeld is, het tesame enkele vliegtuie besit en het ook relatief min gevlieg,” vertel hy.
Die ooreenkoms oor die bedryf van die lughawe pas die munisipaliteit volgens Strasheim goed aangesien hulle nie voltydse personeel en kundiges hoef aan te stel om die lughawe te bedryf nie.
Die huur en ander fooie wat die Aeroklub aan die munisipaliteit oorbetaal het oor die jare ook heelwat verhoog, het hy gesê.
Aifa/Tfasa het in 2011 hul bedrywighede by die lughawe begin, kort voordat Strasheim voorsitter van die klub geraak het. “Daar was ’n aantal ou bestaande strukture en geboutjies wat hulle benut het. Hulle het op hul eie koste ’n groot vliegtuig-loods met kantore en lesinglokale op die perseel opgerig asook ander verbeterings aangebring. Daar is ’n persepsie by sommige dat die vliegskool die lughawe huur. Dit is egter glad nie die geval nie.”
“Sedertdien het lugverkeer by die lughawe heelwat toegeneem met ligte opleidingsvliegtuie van Aifa wat daar geland en opgestyg het. Tfasa het ook vliegtuie by Oudtshoorn getoets waarvoor hulle die aanloopbaan gebruik het.”
Volgens Strasheim het Aifa/Tfasa in 2011 regstreeks met die munisipaliteit onderhandel en het hulle die vliegskool heeltemal onafhanklik van die Aeroklub bedryf. Daar was in daardie stadium geen geskrewe ooreenkoms tussen Aifa/Tfasa en die munisipaliteit nie.
Strasheim sê hy en die klub se bestuur het in 2013 agtergekom dat daar ’n probleem met die landingsfooie van Aifa/Tfasa was en dat dit klaarblyklik nie ingesluit is by hul ooreenkoms met die munisipaliteit nie.
“Ek het met Willie Marais, uitvoerende hoof van Aifa in daardie stadium, daaroor gaan praat. Ons het ooreengekom dat hulle landingsfooie sal betaal in die vorm van ’n blokfooi wat bepaal word op grond van die gemiddelde getal landings en die tipiese gewig van die vliegtuie.
“Blokfooie word algemeen gebruik in gevalle waar opleidingskole op lughawens bedryf word.”
Strasheim sê destyds is kwaadwillige stories op Oudtshoorn versprei dat Aifa/Tfasa as lid by die Aeroklub aangesluit het en daarom as lid geen landingsfooie betaal het nie. “Dit is bloot onwaar!”
Aifa/Tfasa het in 2014 ’n huurkontrak met die munisipaliteit gesluit vir die huur van geboue en grond by die lughawe. Daarna het Aifa/Tfasa opgehou om landingsfooie aan die Aeroklub te betaal. “Dit was ’n swak opgestelde kontrak wat nie duidelik was oor landingsfooie nie en of die huur-bedrag wat aan die munisipaliteit oorbetaal is, landingsfooie ingesluit het nie. Ná die sluiting van dié huurkontrak het Aifa/Tfasa opgehou om landingsfooie aan die Aeroklub oor te betaal.”
Strasheim sê die Aeroklub se bestuur was nie gemaklik met die situasie nie, maar weens veranderinge in die bestuur van Aifa en sy eie besige program het hy nie by Aifa uitgekom nie.
“Ek het egter verlede jaar met Pikkie Siebrits, uitvoerende hoof van Aifa, vergader. Ons het toe tot die slotsom gekom dat die landingsfooie nie ingesluit is by die huurbedrag wat Aifa aan die munisipaliteit betaal nie en dat Aifa wel landingsfooie aan die Aeroklub verskuldig is.
“Ons het op ’n markverwante blokfooi (landingsfooie) ooreengekom waarna Aifa al hul agterstallige landingsfooie vanaf 2014 tot met ons vergadering aan die klub betaal het en waarna ons die munisipaliteit se 50% aan hulle oorbetaal het.”
Sedertdien betaal die Aeroklub elke maand die landingsfooie, Aifa s’n ingesluit, stiptelik aan die munisipaliteit en is daar nou geen agterstallige landingsfooie nie, het Strasheim gesê.
• Die Aeroklub bedryf ooreenkomstig hul kontrak met die munisipaliteit reeds sedert 2002 die verkope van brandstof by die lughawe vir hul eie sak.
Die klub het oor die jare op hul eie koste die tenks en die brandstofinstallasie by die lughawe aangekoop, uitgebrei en opgeknap.
Hierdie opknappings word befonds uit die 50% van die landingsfooie wat die klub ontvang asook uit die brandstofverkope.
Strasheim beklemtoon dat nie een van die be-stuurslede van die Aeroklub enige vergoeding van die Aeroklub ontvang vir hul bestuursinsette nie.
“Ons betaal wel salarisse aan vyf werknemers van die klub. Daar werk twee deeltydse kroegmanne by die klub, twee deeltydse brandstofbedieners asook een voltydse algemene werker,” het hy gesê.
Strasheim het onderneem om voor volgende week se uitgawe van Die Hoorn aan ons die bedrae wat hulle jaarliks aan die munisipaliteit vir landingsfooie oorbetaal, verskaf.
Hy het enigeen wat navrae oor die lughawe het, genooi om hom by e-posadres jsa@mweb.co.za te kontak.
• By navraag het Siebrits, wat in Februarie 2018 as uitvoerende hoof van Aifa aangestel is, gesê hy is bewus van geen geheime trustrekening waarin landingsfooie oorbetaal is nie.
Hy het daarop gewys dat alle rekeninge van die munisipaliteit aan Tfasa (Test Flight Academy of SA), wat ’n aandeelhouer in Aifa is, uitgereik word en dat Tfasa al die munisipale rekeninge, wat huur en belastings insluit, betaal. “Ons betaal egter al die landingsfooie aan die Aeriklub wat dit dat aan die munisipaliteit oorbetaal. “Ek kan die waarborg gee dat ons geen agterstallige rekening by die munisipaliteit en die Aeroklub het nie,” het hy gesê.
Aeroklub, Aifa/Tfasa skuld munisipaliteit nie ’n sent
