SEKERE wette en die Covid-19-pandemie is twee van die hoofoorsake wat die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit in ’n ongekende personeelkrisis gedompel het. Dit het Dinsdagoggend duidelik geword tydens ’n gesprek van die DA-koukus met plaaslike koerante.
Die dorp is tans sonder ’n burgemeesterskomitee omdat daar onsekerheid is oor wetgewing of waarnemende burgemeester, Noluthando Mwati, so ’n komitee mag saamstel. Dié kwessie is reeds vir ’n eksterne mening na die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, verwys aangesien daar wel munisipaliteite is waar waarnemende burgemeesters ’n burgemeesterskomitee aangewys het.
Die dorp is ook tans sonder ’n munisipale bestuurder met Allen Paulse wat steeds nie kan terugkeer nie as gevolg van die ondersoek wat ingevolge die Webber Wentzel-verslag gedoen word. Daar is ook niemand by die Oudtshoorn Munisipaliteit om in sy plek waar te neem nie. Die wetlik toegelate tydperk wat Reggie Smit kon waarneem, het op 25 Julie verstryk.
Smit kan op sy beurt nie voortgaan met sy taak as direkteur korporatiewe dienste nie omdat hy in isolasie is nadat ’n familielid met Covid-19 gediagnoseer is.
Tommy Matthee, direkteur gemeenskapsdienste, is tans siek en deur sy dokter aangesê om slegs van sy huis in Sedgefield te werk.
Die pos van die direkteur tegniese dienste is nog nie gevul nadat Chris Koch die munisipaliteit verlede jaar verlaat het nie.
Die munisipaliteit se regsbeampte, Pumzo Tofile se pos is vakant nadat hy onlangs aan Covid-19 oorlede is.
Talle ander senior personeellede is tans ook in isolasie as gevolg van die virus.
“Dit maak dit moeilik om Oudtshoorn te regeer,” het Chris Macpherson die DA se burgemeesterskandidaat gesê. Volgens Macpherson wag die raad tans vir terugvoer van Bredell of daar nie moontlik geskikte persone uit ander munisipaliteite na Oudtshoorn gesekondeer kan word om te help nie.
As gevolg van die Vlak 3-regulasies kon net ’n derde van die munisipale werkerskorps terugkeer kantoor toe en moet die ander personeel van die huis te werk. Macpherson het egter aangedui dat dit wil voorkom of daar verwarring by die munisipale werkerskorps en bestuur is.
Daar sou Dinsdagmiddag gesprek gevoer geword het met senior personeel om seker te maak dat werknemers wat nie oor ’n sertifikaat beskik dat hy/sy of ’n naasbestaande as gevolg van die virus in isolasie moet wees nie, wel aan diens is. “Ons kan nie toelaat dat werknemers van die werk wegbly sonder rede nie. As hulle nie werk nie, moet hulle verlof of siekteverlof neem.
Personeel- en voertuig-oudit noodsaaklik
Macpherson het ook beklemtoon dat ’n personeeloudit, ’n voertuigoudit en ’n sekuriteits-oudit dringend nodig is en met senior personeel bespreek sal word.
• Met ’n personeeloudit sal bepaal kan word of daar mense is wat net by die huis bly, en ook of daar nie “spookwerkers” is nie. Alle werkers moet deel uitmaak van die goedgekeurde organogram.
• ’n Voertuigoudit is nodig omdat daar baie klagtes is van munisipale voertuie wat saans by huise staan. Enige munisipale voertuig by ’n huis is onwettig daar.
• ’n Sekuriteits-oudit se doel sal wees om seker te maak sekuriteit is by alle plekke wat as sleutelpunte geïdentifiseer is. (Deur Liesel le Roux)