HY verwag dat die Covid-19-gevalle op Oudtshoorn gaan aanhou styg tot middel September, sê ’n algemene praktisyn van Oudtshoorn en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, dr Wessel Vermeulen.
“Mense op alle vlakke van die samelewing raak mak en kom nie reëls na nie. Daar is te veel sosiale omgang en partytjies; ook van die jagters is agterlosig.”
Vermeulen sê ongelukkig gaan mense hier duur betaal vir hul ignorering van maatreëls – handhawing van sosiale afstand, die dra van maskers en was of ontsmetting van hande.
Volgens Hannes Stegmann, bestuurder van die Mediclinic Klein Karoo, is daar reeds ’n toename in die aantal Covid-19-positiewe pasiënte wat in die Mediclinic Klein Karoo opgeneem word.
Volgens hom ontvang die meeste pasiënte onder andere suurstofbehandeling.
“Ons het egter nog nie nodig gehad om enige Covid-positiewe pasiënte hier te ventileer nie. ’n Paar ernstiger gevalle is oorgeplaas George toe.
Ook by die Oudtshoorn Hospitaal neem die aantal Covid-19-pasiënte toe.
Volgens dr Charles Dreyer, mediese dienste-bestuurder van die Oudtshoorn-subdistrik waaronder die Oudtshoorn Hospitaal val, is daar ook by die hospitaal ’n toename in die opname van siek Covid-19-pasiënte.
Hy het aangedui dat 17 mense reeds op Oudtshoorn aan die virus gesterf het.
Hoe kry ons mense om hul gedrag te verander?
Intussen is daar groot kommer op talle fronte oor die traak-my-nie-agtigheid by inwoners van die Klein Karoo om die voorgeskrewe veiligheidsmaatreëls te volg waardeur hulle die hele gemeenskap in gevaar stel.
’n Psigiater van Oudtshoorn, dr Clifford van Wyk, reageer vandeesweek op Die Hoorn se briewekolom op ’n skrywe van dr Barry McGurk verlede week oor hierdie kwessie. Van Wyk en McGurk het in hul briewe die belangrikheid daarvan beklemtoon dat mense dringend hul gedrag sal moet verander, en dat stappe geneem sal moet word om dié veiligheidsmaatreëls as ’t ware te bemark. Die Hoorn ondersteun hierdie inisiatiewe volkome en wil ’n beroep op inwoners doen om kreatief te dink aan hoe die boodskap oorgedra kan word dat dit in ons almal se hande is om ons gemeenskap veilig te hou. Gehoorsaam asb die voorgeskrewe maatreëls.
Bekommerd oor sluiting van skole
Vermeulen het aan Die Hoorn gesê hy is baie bekommerd daaroor dat skole gesluit het. “Daar is volledige maatreëls by skole ingestel om kinders en onderwysers te beveilig, terwyl my ervaring toon dat diegene wat die virus kry, dit gewoonlik in hule eie gemeenskap aansteek. Daar is geen wetenskaplike motivering om skole te sluit nie. Hierdie is polities gemotiveerd. Dit het ook ’n baie negatiewe invloed op die psige van kinders.
Baie kinders raak depressief. Ek het nou vier kinders tussen agt en elf jaar behandel vir maagsere. Ons dink nie wat ons doen nie.”
Staan bejaardes so by
Vermeulen het ook gewaarsku dat bejaardes nie binne toegesluit moet word nie om hulle teen Covid-19 te beskerm nie. “Ek is baie bekommerd oor die bejaardes van die dorp. Neem bejaardes na buite in die vars lug en son.
Maak ’n grappie met hulle. Wys dat jy omgee. En maak sommer ook die
vensters van hul blyplekke of kamers oop sodat vars lug kan inkom.”
Nuutste Covid-19-syfers
Woensdag (29 Julie 2020) was ongelukkig teen druktyd nog nie bekend nie.
Op Dinsdag (28 Junie 2020) het Oudtshoorn 429 positiewe gevalle gehad, met 248 mense wat herstel het, terwyl Kannaland 49 positiewe gevalle aangeteken het met 41 wat herstel het.
Oudtshoorn se dodetal het gister op 17 gestaan. (Deur Liesel le Roux)
Inwoners steeds laks terwyl Covid-syfers vinnig toeneem
