DIE KKNK bring vanaf vandag (Donderdag 30 Julie) tot Donderdag 24 September 2020 ’n eksklusiewe musiekreeks van nege aanlyn-konserte met van ons land se voorste kunstenaars na jou huis toe – waar jou blyplek ook al in die wêreld is.
Die nege konserte maak deel uit van die KKNK Mothership-sessies wat in Karen Zoid se studio opgeneem is:
• Elandré – Donderdag 30 Julie. Elandré is bekend vir sy kenmerkende diep stem, en gaan die skerms met ’n vyfstuk-orkes aan die brand sing.
• Emo Adams Unplugged – Donderdag 6 Augustus. Dié konsert is ’n uitsonderlike ervaring met Adams en ’n vierstuk-orkes. Sy pa, Omar, sluit by hom aan vir ’n liedjie of twee.
• Karen Zoid – Maandag 10 Augustus. Karen word vir dié optrede – op haar verjaarsdag – begelei deur haar orkes asook Theo Crous, hoofkitaarspeler van die legendariese Springbok Nude Girls.
• Watershed – Donderdag 20 Augustus. Dié top indie-rockgroep is een van die land se gewildste uitvoerprodukte. Verwag fantastiese musiek en ’n hele paar van hul ikoniese treffers.
• Jan Blohm – Donderdag 27 Augustus. Dié Afrikaanse liedjieskrywer is te sien in die show van ’n leeftyd: meesleurend, rou en eerlik – soos sy musiek.
• Elvis Blue – Donderdag 3 September. Hy sing in dié konsert van sy gewildste liedjies, waaronder Die Hemel, Jou Huis, Toe ons Jonk Was en Lighthouse.
• Anna Davel – Donderdag 10 September. Verwag ’n musikale reis van akoestiese klavier, saksofoon en melodieë.
• Roan Ash – Donderdag 17 September. Dié opkomende ster kombineer folk-musiek, blues, country en rock. Sy platinum-album, Whisky to My Soul, is genomineer vir ’n SAMA-toekenning.
• Eet Kreef! – Donderdag 24 September. Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se ikoniese album word 30 jaar nadat dit oorspronklik uitgereik is gevier. Met aKING se hoofsanger Laudo Liebenberg, ’n vuurwarm band en nuwe verwerkings van ikoniese songs.
“Ontvlugting is noodsaaklik vir oorlewing en ek en my musiek-kollegas wil hê mense moet hulle skoene uitskop en vergeet van die pandemie wat ons gedagtes oorheers,” sê Karen Zoid.
Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, sê hoewel die KKNK nie vanjaar feesgangers op Oudtshoorn kon verwelkom nie, gaan dié konserte beslis die gees van die fees na gehore se huise bring.
• Optredes word elke Donderdagaand aanlyn uitgesaai en is tot die Sondag beskikbaar om te kyk (met die uitsondering van Karen Zoid se konsert wat op ’n Maandag plaasvind).
Kaartjies vir die vertonings wat in hoë-definisie gekyk kan word, kos R150 per konsert – vir die hele gesin om saam te geniet. Dit is te koop op www.webtickets.co.za, die platform waar die optredes ook gekyk kan word.