Watter rol gaan tweespalt in DA speel?

’N NUWE burgemeester vir die Groter Oudts­hoorn gaan waarskynlik hierdie Vrydag by ’n raadsvergadering aangewys word.

Dit volg nadat ’n spesiale raadsvergadering verlede Vrydagoggend waartydens die burgemeester aanvanklik verkies sou word, gekanselleer is nadat die speaker, Julia le Roux, se moeder skielik ernstig siek geword het.

Sprake van tweespalt onder die DA-raadslede het sedert verlede week ’n vraagteken laat hang oor wie as burgemeester verkies sal word. Slegs die DA het nog hul burgemeesterskandidaat, Chris Macpherson, aangewys, maar dit lyk na ’n sterk moontlikheid dat nog ’n burgemeesterskandidaat deur opposisiepartye aangewys kan word.

Macpherson het by ’n gesprek van die DA-raads­lede met die plaaslike pers Dinsdag gesê dit staan enige raadslid vry om vir die burgemeesters­kandidaat van enige party te stem, en dat dit inderdaad kan gebeur dat DA-raadslede vir ’n kandidaat van ’n ander party kan stem.

Die stemming vir burgemeester is ’n geheime stemming per stembrief en sal deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) hanteer word .
“As ’n lid van die DA egter teen die koukusopdrag optree, kan die party die raadslid skors.

“Proporsionele raadslede kan net deur die party vervang word, maar om ’n nuwe wyksraadslid te verkies, verg ’n tussenverkiesing wat as gevolg van Covid-19 moontlik eers die einde van die jaar of volgende jaar in Maart kan plaasvind.”

Macpherson het gesê Vrydag se vergadering is belangrik omdat daar ’n aantal belangrike items is wat by die vergadering bespreek moet word.

Daar is ook reeds weer ’n mosie van wantroue ingedien teen Noluthando Mwati as onder-burgemeester waarvoor raadslede sal moet stem.
Dit kan moontlik aandui dat die opposisie ook beplan om die onderburgemeester te probeer vervang.

Mwati neem tans waar as uitvoerende burgemeester van die Groter Oudtshoorn. (Deur Liesel le Roux)