TWEE Oudtshoorn-besighede het in die bestek van vyf dae onder inbrake deurgeloop, maar in beide gevalle is die verdagtes byna onmiddelik in hegtenis geneem danksy vinnige optrede deur die Oudtshoorn Polisie.
Volgens polisiewoordvoerder kapt Louis Visser is daar gedurende die nag van Woensdag (22/23 Julie 2020) by Street Fever in Hoogstraat ingebreek en skoene gesteel.
“Twee verdagtes is in hegtenis geneem,” het hy gesê.
Omstreeks 08:00 op Saterdag 25 Julie 2020 is daar by Oasis Shanti Backpackers op die hoek van Kerk- en Randstraat ingebreek.
Volgens Visser het twee mans reeds Maandag in die hof vir dié inbraak verskyn.
Hy sê daar is geen aanduiding dat die twee gevalle verband hou met mekaar nie.
Francois van Rensburg, eienaar van Oasis, sê dit is die sewende inbraak by sy besigheid sedert April en onder die Covid-19-inperking.
Hy het drie keer klagtes oor die inbrake by die polisie gaan indien.
“My plek staan nog die hele tyd leeg, en ek dink die kwaaddoeners wat hier verbystap, weet dit.
“Hierdie laaste geval was die eerste keer dat die polisie iemand kon vang, en ek moet dankie sê aan die twee polisiemanne wat so vinnig gereageer het om die saak te ondersoek,” sê Francois.
Hy vertel dat die polisie heel toevallig verby Oasis gery het die oggend en die diewe op heterdaad betrap het.
Volgens Francois is daar in die verlede onder meer by ’n venster en stoorkamer ingebreek; en is ’n televisie, skadunet, kabels, en sekuriteitskamera en -ligte al by hom gesteel.
“In die laaste geval het hulle ’n kraan afgebreek wat daartoe gelei het dat die geyser leeggeloop het. So die skade was erger as die diefstal,” sê hy.
Hierdie inbrake kom net meer as ’n maand nadat Die Hoorn berig het (4 Junie 2020) dat inbrake by besighede volgens die Oudtshoorn Polisie “heelwat toegeneem” het tydens die inperking.
’n Betroubare bron in die sekuriteitsbedryf het toe gesê dat daar ’n 100%-styging in besigheidsinbrake was in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Inbrake by nog twee besighede
Oasis Shanti Backpackers (onder) en Street Fever (bo), twee besighede op Oudtshoorn wat beide die afgelope week onder inbrake deurgeloop het.
Foto onder: Stefan Skapie Goosen
Foto regs verskaf