‘N LEERDER van die Hoërskool Oudtshoorn, Danelle Titus (15), gaan volgende jaar in ‘n kortverhaal op Via, Kanaal 147 van DSTV, verskyn nadat sy ‘n aanlyn-dramakompetisie gewen het.
Danelle vertel sy het op 22 April deelgeneem aan die aanlyn-dramakompetisie, Speeltoneel, en ‘n video aan die aktrise Desiré Gardner wat te sien is in die sepie, Suidooster, gestuur. Op 25 April het Desiré Danelle laat weet sy is die wenner!
“Sy het in ‘n video wat sy vir my gestuur het, gesê sy en ander akteurs van Binnelanders gaan my via Skype onderrig!” vertel Danelle opgewonde. Danelle is sedert verlede jaar betrokke by haar skool se dramagroep en het al aan een dramaproduksie deelgeneem.
“Ek is super opgewonde, en kan nie wag om saam met die bekendes te werk nie,” sê Danelle. Sy sê sy wil graag na skool drama studeer, en sien hierdie as die begin van groot dinge in die toekoms. “Ek kan nie wag om my passie met ander te deel en my drome uit te leef nie.”
Die kortverhaal sal in Februarie volgende jaar in Kaapstad geskiet word. (Berig deur Angelique Erasmus)