Briewe van lesers

Gholfbaan, vandalisme, veiligheid…

Die afgelope week is daar baie op sosiale media geskryf oor vandalisme en onveiligheid op die gholfbaan. Dit het die vraag laat ontstaan oor wie se verantwoordelik die baan nou eintlik is, want soos met alles wat op die dorp verkeerd gaan, word daar weer na die munisipaliteit gekyk.

Sover my kennis strek, is dit die eiendom van die munisipaliteit wat deur die gholfklub gehuur word. Dit is dus nie so moeilik om te verstaan dat die huur­der verantwoordelik is vir die instandhouding daarvan nie.

Dit sluit ook die verwydering van kwaaddoeners en onwettige plakkers in.

Die grootste kopseer blyk egter die onwettige plakkers van Hopeville te wees wat op die grond van die gholf-klub en die begraafplaas plak.

Die omheining van die golfbaan is reeds gesteel en die pallisadeheining om die begraafplaas verwyder.

Selfs die houtkruise op die grafte word gebruik om vuur mee te maak.

Die gholfklub het al by geleentheid kennis gegee dat hulle die plakkers vanaf die gholfbaan gaan laat verwyder, maar sover bekend het dit nie gebeur nie.

Die vestiging van hierdie plakkers­kamp langs die nasionale pad en regoor die pragtige Colridge-woonbuurt moet voor die deur van die vorige politieke leiers op die raad gelê word.

Hulle het gereeld die plakkers en hul leier ontmoet met die toegewing dat hulle maar solank daar kon plak totdat hulle huise of ander grond sou kry. Intussen het hulle daar water en mobiele toilette voorsien.

Dit het ’n kettingreaksie veroorsaak en nou is daar op elke stukkie grond in Bridgton en Bongolethu nou ’n plak-kerskamp met water en toiletgeriewe.

Die leiers wat hierdie wanorde geskep het, is nie meer in die raad nie en het dit die huidige burgemeester se kopseer geword.

Hy het reeds te kenne gegee dat hy daaraan aandag gee.

Wat die situasie met die plakkers van Hopeville egter versleg, is die feit dat hier nou ’n nuwe party bekend as OGI gestig is en die leierskap hoofsaaklik uit inwoners van die Colridge-area regoor die plakkerskamp kom.

Hierdie party het nou baie stategies die leier van die plakkerskamp op hul bestuur gekry om te verseker dat hulle ’n taamlike getal stemme daar kan kry. Die ironie hiervan is egter dat hulle nou nie verder ’n woord rep oor wat die kamp aan die waardasies van hul eiendom doen en al die ander negatiewe implikasies nie

Die leierskap van die golfklub sal nou hul verantwoordelikheid moet opneem en toesien dat hulle omsien na die eiendom.
Ongelukkig is vandalisme en afbreek ’n gevestigde kultuur in ons pragtige dorp.

Plakkers slaan oral op sonder toe-stemming, pallisades en omheinings word verwyder en elke plaveiselsteentjie is al uitgehaal en niemand het ge-sien wie dit doen nie.

Ons wag maar soos nou weer vir die munisipaliteit.

Die gemeenskap van Mosselbaai het verlede week iemand gevang wat besig was om plaveiselsteentjies te verwyder. Hulle het dat hy alles weer terugplaas en hom toe aan die Polisie oorhandig.

Goeie leiers doen ook stappe en optredes wat somtyds ongewild is.
– Krulkop-politikus, Oudtshoorn

Gholfbaan behoort aan gholfklub

Volgens die Oudtshoorn Munisipaliteit behoort die erwe waarop die gholfbaan geleë is aan die Oudtshoorn Gholfklub.
Lees gerus die berig geskryf deur Stefan Skapie Goosen oor die gholfbaan se veiligheidsituasie en toekomsplanne op

https://www.diehoorn.com/nuus/gholfbaan-reeds-veiliger-en-gaan-nie-toemaak/.