AKTIEWE Covid-19-gevalle in die Groter Oudts-hoorn het vandeesweek tot meer as 400 gestyg.
Teen Maandag was daar 401 aktiewe Covid-19-gevalle in die Groter Oudtshoorn
Dit stem ooreen met ’n styging elders in die Tuinroete en Wes-Kaap (EPOSSE).
Die aantal mense in die munisipale gebied wat Covid-19 opgedoen het, is egter waarskynlik veel hoër. Die Hoorn is bewus van mense wat nie getoets is nie, maar Covid-19-simptome gehad het – soos die verlies aan reuk en smaak – wat tuis behandel is.
Onkunde oor isolasie
Die Hoorn het die laaste aantal weke navrae van inwoners ontvang oor wat hulle te doen staan as ’n kollega by die werk, vriend of familielid positief getoets is, of hulle moet isoleer, terwyl ander bekommerd was dat mense wat positief getoets is, steeds rondbeweeg en dus so ander kan aansteek.
Kyk gerus na die inligting in die blou uiteensetting regs van die berig vir raad oor isolasie en lig mense rondom jou daaroor in.
Entstof en instappers die week in Groter Oudtshoorn
Daar is entstof by inentingslokale in die Groter Oudtshoorn om vandeesweek daagliks ’n beperkte aantal instappers van 35 en ouer sonder afsprake te kan help, sê Helen Human, die Departement Gesondheid se adjunk-direkteur verpleging in die Oudtshoorn-subdistrik.
Volgens Human word voorkeur aan instappers in die volgende volgorde gegee: 60 plussers wat kom vir hul eerste inenting; 60 plussers wat kom vir hul tweede inenting; 50 plussers wat kom vir hul eerste inenting; 35 plussers wat kom vir hul eerste inenting.
Die Wes-Kaapse regering het in ’n persverklaring Dinsdag aangedui dat die provinsie 96 000 inentings vir die week ontvang het, minder as waarop gehoop is. Die provinsie is egter ingelig dat meer entstof van volgende week in die provinsie afgelewer sal word.
18- tot 34-jariges van 1 September ingeënt
Pres Cyril Ramaphosa het Sondagaand aangekondig dat mense tussen 18 en 34 die Covid-19-entstof vanaf 1 September sal kan ontvang.
So lyk aangepaste Vlak 3 wat sedert Maandag geld
Die regulasies vir Vlak 3 wat sedert Maandag in Suid-Afrika geld, lyk so:
• Drank kan Maandae tot Donderdae van 10:00 tot 18:00 gekoop word.
• Eetplekke kan drank tot 20:00 bedien.
• Die aandklokreël geld steeds van 22:00 tot 04:00.
• Nie-essensiële besighede soos restaurante en gimnasiums mag weer open. Besighede sluit om 21:00 sodat personeel be- tyds tuis kan wees.
• Religieuse, politieke en sosiale byeenkomste mag plaasvind met slegs vyftig mense binnenshuis en honderd buitenshuis. Begrafnisse: maksimum 50 mense.
• Interprovinsiale reise toegelaat.
• Skole het Maandag geopen.
Vlak 3: Verantwoordelikheid nou inwoners s’n
Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het Maandag die verligting van die inperkingsmaatreëls na Vlak 3 verwelkom en die positiewe invloed wat dit op die ekonomie kan hê, maar gesê dit plaas ’n groter verantwoordelikheid op inwoners om die verspreiding van die virus deur “lewensredden- de gedrag” en die toepassing van Covid-19-maatreëls te voorkom. “Die Wes-Kaapse gesondheidstelsel is steeds onder druk en ons moet seker maak dat ons die oordrag van die virus voorkom en diegene met die grootste risiko om ernstig siek te word van Covid-19 beskerm.”
Meer as 400 Covid-gevalle in die Groter Oudtshoorn
Belangrike inligting oor isolasie.