DIE welbekende juffrou Lily Manuel (83) van Colridge View, oud-dosent aan die destydse Onderwyserskollege Suid Kaapland (OKSK) en kindertuin-vakadviseur, is Maandagoggend in die MediClinic Klein Karoo op Oudtshoorn aan Covid-19-verwante komplikasies oorlede.
Manuel was ’n Oudtshoorniet van geboorte en het diep spore in die onderwys getrap. Sy was een van die eerste studente aan die OKSK, in daardie jare die Bridgton Onderwyserskollege, en het haar onderwysloopbaan in 1957 op De Rust begin.
Nadat sy ’n jaar lank daar skoolgehou het, het sy die daaropvolgende jaar by die Laerskool De Villiers in Jubileestraat begin skoolhou.
In 1977 het sy dosent aan die OKSK geword en in 1988 kindertuin-vakadviseur tot met haar aftrede in 1995.
Daarna het sy ’n jaar lank in Kimberley as se-nior kindertuin-vakadviseur uitgehelp en finaal op 58 jaar, na 39 jaar in die onderwys, afgetree.
Haar eggenoot, William, het haar 40 jaar gelede ontval. Sy word oorleef deur haar vyf kinders, Shannon Fisher, Lavona Barnard, Robelda Rond-ganger, Alvera Pressend, een seun, Garfield, dertien kleinkinders en ses agterkleinkinders.
• Die Vollies (oud-studente van die OKSK) hou Vrydagmiddag vanaf 15:00 ’n verbyry-huldiging vir Manuel wat Saterdagoggend om 09:00 vanuit die Bridgton Verenigende Gereformeerde Kerk begrawe word. Die huisdiens te Sesdelaan 2, Colridge View, begin om 08:30. (Deur Garnett Wicomb)
Covid eis bekende oud-dosent en vakadviseur
Juffrou Lily Manuel (83)