GERUGTE dat die Oudtshoorn Gholfbaan moontlik gaan toemaak is dalk oordrewe en bietjie kras gestel volgens die klub se president, Paul Stroebel.
Hy het vandeesweek gereageer op Die Hoorn se navrae nadat nie net gholfliefhebbers nie, maar vele Oudtshoorniete op hol geraak het toe ’n storie op sosiale media verskyn waarvolgens die gholfbaan moontlik gaan sluit weens voorvalle van misdaad, veral die afgelope twee jaar, en ook die groterwordende informele woonbuurt Hopeville wat tussen die baan en die Oudtshoorn Begraafplaas verrys het.
In ’n brief aan Die Hoorn het ’n leser geskryf dat daar die afgelope week baie op sosiale media geskryf is oor vandalisme en onveiligheid op die gholfbaan. Volgens die brief het dit die vraag laat ontstaan oor wie se verantwoordelik die baan is, want net soos alles wat op die dorp verkeerd loop word daar vingers na die munisipaliteit gewys.
“Sover my kennis strek is dit die eiendom van die munisipaliteit wat deur die golfklub gehuur word. Dit is dus nie so moeilik om te verstaan dat die huurder verantwoordelik is vir die instandhouding daarvan nie. Dit sluit ook die verwydering van kwaaddoeners en onwettige plakkers in.
“Die grootste kopseer blyk egter te wees die onwettige plakkers van Hopeville wat op die grond wat die gholfklub huur en begraafplaas plak. Die omheining van die gholfbaan is reeds gesteel en die pallesade om die begraafplaas verwyder. Selfs die houtkruise word gebruik om vuur te maak. Die gholfklub het al by geleentheid kennis gegee dat hulle die plakkers vanaf die gholfbaan gaan laat verwyder, maar daar het niks van gekom nie,” lui die brief onder meer.
Stroebel sê die klub is op hoogte van voorvalle van misdaad soos diefstal en gevalle van aanranding wat gholfklublede se veiligheid in gedrang gebring het, en die klub is reeds besig om aandag daaraan te gee.
Volgens Stroebel is daar reeds twee voltydse sekuriteitswagte wat die gholfbaan patrolleer. “Alles is nou rustig op die baan sonder verdere voorvalle en dit is veilig vir kinders en vroue om te kom speel,” het hy verseker.
Stroebel het bygevoeg dat die klub tydens ’n spesiale algemene vergadering op Woensdag, 4 Augustus, verdere maatreëls gaan bespreek om spelers se veiligheid te verseker en om die “deurloop” van mense by die gholfbaan te verhinder.
Talle Oudtshoorniete en spelers het al in die verlede gekla oor ongewensde elemente wat die gholfbaan gebruik as wegkruipplek vir die Polisie, of om met hul “gevaarlike” honde rond te loop en spelers te intimideer.
Stroebel het gesê die gholfklub se bestuur is tans ook in gesprekke met die munisipaliteit om verder aandag aan die kwessie te gee, en dat die bestuur enige instansie op Oudtshoorn wat die klub met beveiliging wil steun, sal verwelkom.
Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het bevestig dat daar sedert Januarie vanjaar minstens vier misdaaddossiere in verband met die gholfbaan oopgemaak is.
Hy het gesê daar is op 5 Januarie luidsprekers gesteel, op 31 Maart by die veld agter die gholfbaan selfone by mense geroof, op 2 Julie ’n saak van diefstal geopen nadat draad gesteel is en op 19 Julie ’n saak van aanranding oopgemaak nadat ’n speler op die baan met klippe gegooi is.
Die munisipaliteit het bevestig dat die burgemeester en gholfklubbestuur gereeld in konsultasie met mekaar is, en aan ’n langtermynplan werk om die veiligheid en sekuriteit van alle spelers en die baan te verseker.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoer-der van die munisipaliteit, behoort die erwe waarop die baan aangelê is aan die Oudtshoorn Gholfklub. Buiten gesprekke met die munisipaliteit het die klub reeds die nodige maatreëls getref om spelers te beskerm.
“Die veiligheid van ons landsburgers en instellings is die grondwetlike mandaat van die SAPD. Die munisipaliteit help met wetstoepassingsaksies wanneer dit geregverdig is. Die gholfklub is ’n privaatinstansie en word soos enige ander instansie bygestaan op versoek,” het hy gesê.
Rakende navrae oor Hopeville se bestaan reg langs die baan, het Mangqwengqwe gesê die stigting van Hopeville is nooit deur die raad oorweeg nie, en is dus onwettig. “Dit maak eintlik inbreuk op die munisipale eiendom wat vir ons begraafplaas aangewys is,” het hy gesê.
Mangqwengqwe het bygevoeg die huidige rampbestuurwet verbied die munisipaliteit om onwettige plakkers te verwyder en dat die kwessie hanteer sal word sodra die wet nie meer van toe-passing is nie.
“Die oorsaak van die probleem in hierdie stadium is die onwettige toegang en deurloop van mense uit ander dele van die dorp wat kortpaaie oor die gholfbaan neem. Die Oudtshoorn Gholfbaan is die enigste 18 putjie-baan in die Karoo en lewer ’n groot en gewaardeerde bydrae tot die ekonomie van ons dorp,” het hy gesê. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Gholfbaan reeds veiliger en gaan nie toemaak
Die Oudtshoorn Gholfbaan is die afgelope twee jaar deur veiligheidskwessies geteister, soos dié vier mans van GG Kamp wat in Julie 2020 die gholfbaan onwettig betree om vuurmaakhout op die gholfbaan te saag. Hulle het gesê dit benadeel niemand nie en hul gebruik die hout om hulself in die winter warm te maak en om kos te maak. Foto: Stefan Skapie Goosen