Bridgton Rugbyklub groet afrigter én speler binne week van mekaar

Van links Jacky Septemebr en Nigel Olieslager

DIE Bridgton Rugbyklub, en saam met hulle minstens twee families op Oudtshoorn, moes in een week twee van hul lede groet na albei se afsterwe.

Op die klub se Facebookblad is op 22 Julie geskryf dat die klub met groot hartseer verneem het van die afsterwe van Jacky September (foto bo links). September was volgens die klub ’n oud-speler, afrigter en spanbestuurder.

“Jacky, ons gaan jou mis, veral wanneer jou senuwees so gewerk het, dit gelyk het jy self wil speel. Mag God sy vrou, kinders, broer en suster en die bree familie versterk. Mag God julle toemaak met Sy hand van liefde. Rus sag Jacky, tot ons weer sien,” het die inskrywing gelees.

Dit blyk uit die byna 120 boodskappe wat op die inskrywing gelos is, dat September ’n geliefde lid van die klub was, en sal hy verder onthou word vir sy vriendelikheid en toewyding aan die sport en klub.

Daar is reeds vandeesweek ’n aantal gedenkdienste en “drive-by’s” vir September gehou, met sy begrafnis wat Saterdag om 11:00 te Vygiehof gehou sal word, volgens die klub.

Die klub het Dinsdag (28 Julie) ook ’n inskrywing na aanleiding van die afsterwe van Nigel Olieslager (foto bo regs) geplaas.

“Ons het met hartseer verneem van die afsterwe van ons speler, Nigel Olieslager (Nature). Mag God die familie versterk en vertroos. Mag God met julle wees in hierdie besonderse tyd van hartseer. Rus sag Nature,” het die inskrywing gelees.

Olieslager was, uit kommentaar op die inskrywing, bekend as ’n goeie man met ’n “mooi hart” wat altyd vriendelik en behulpsaam teenoor sy medemens was. (Deur Stefan Goosen)