Eskom se beurtkragskedule vir Oudtshoorn in Junie. Beurtkrag sal slegs binne dié tye plaasvind indien kragvoorsiening in die land onder druk kom.
Deur Liesel le Roux
DAAR is steeds die week ’n moontlikheid van beurtkrag in Suid-Afrika, veral tussen 17:00 en 21:00 saans, het Eskom Dinsdag bekend gemaak.
Indien beurtkrag wel in hierdie tydgleuf gaan plaasvind, sal Oudtshoorn volgens die dorp se beurtkragskedule slegs Sondag tussen 18:00 en 20:30 geraak word, en dan eers weer op Donderdag, 28 Junie.
Beurtkrag is sedert verlede week Suid-Afrikaners se voorland na stakende Eskom-werkers dié elektrisiteitsvoorsiener ontwrig het.
Eskom het die week aangedui dat dit na verwagting sowat tien dae sal duur om kragvoorsiening weer ten volle te herstel.
Eskom se beurtkrag-skedule wat foutief op sy webtuiste was en verlede week tot groot verwarring op Oudtshoorn gelei het, is intussen opgedateer en beskikbaar by by http://loadshedding. eskom.co.za
Neem egter kennis dat beurtkrag slegs op die tye op die skedule sal plaasvind indien Eskom vind dat die land se kragvoorsiening in daardie stadiums onder druk is.
Omdat daar soms op kort kennisgewing deur Eskom besluite oor beurtkrag geneem word of besluite verander word, wil ons aanbeveel dat lesers nuusgebeure op nuuskanale, plaaslike radiostasies en Die Hoorn se Facebook-blad volg om so ingelig te bly oor moontlike beurtkrag.