Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n 19-jarige man van Ladismith wat daarvan aangekla word dat hy die 73-jarige Jacobus Parsons met ’n stuk yster doodgeslaan het, is Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof vir uitspraak uitgestel. Hy word aangekla van moord.
Denrico Jaftha (19) het erken dat hy die aand van 19 Julie 2016 vir Parsons met ’n stuk yster geslaan het.
Volgens hom het hy saam met Parsons in ’n buitekamer gewoon. Hy het die betrokke aand laat tuis gekom en aan die deur geklop. Parsons wou glo nie die deur vir hom oopmaak nie en het van binne geskree dat hy op ’n ander plek moet gaan slaap.
Hy het kwaad geraak, die deur oopgeskop en Parsons met die stuk yster geslaan.
Hoewel hy kwaad was, het hy nie bedoel om Parsons dood te maak nie, en is hy baie jammer daaroor, het Jaftha gesê.
Streeklanddros Retha Pretorius het op versoek van Jaftha se regshulpprokureur, Eugene Roos, en die staatsaanklaer, Hyron Goulding, die saak vir uitspraak uitgestel tot 6 Julie.