• Valke was op Oudtshoorn
Deur Liesel le Roux
DIE Valke is tans besig met ’n voorlopige ondersoek na klagtes van bedrog en korrupsie in die Oudtshoorn Munisipaliteit, sê kapt Philane Nkwalase, woordvoerder van die Valke in die Wes-Kaap.
Volgens Nkwalase is dié ondersoek in ’n baie vroeë stadium en is geen dossier nog in hierdie stadium geopen nie. Hy sê dit sal slegs in ’n later stadium moontlik gebeur indien “kriminele elemente” gevind word.
Die huidige voorlopige ondersoek hou nie verband met ’n vorige ondersoek van die Valke na bedrog en korrupsie onder die vorige munisipale regering nie.
Die Hoorn is bewus daarvan dat inwoners van Oudtshoorn die laaste weke deur die Valke besoek is om sekere inligting in te win, onder meer om inligting te kry oor aankope deur die munisipaliteit by ’n besigheid.
Luidens ’n berig Sondag in Weekend Argus het die hoof van die Wes-Kaapse Departement van Plaaslike Regering, Graham Paulse, verlede week tydens ’n inligtingsessie aangedui die Oudtshoorn Munisipaliteit word ondersoek vir die onreëlmatige toekenning van tenders, uitgawes en die aanstelling van personeel, met twee fluitjieblasers wat beweer dat bedrog en korrupsie plaasgevind het.
• Oudtshoorn se munisipale bestuurder, Allen Paulse, het op 9 Mei by ’n spesiale raadsvergadering hom sterk uitgespreek teen amptenare of werknemers van die munisipaliteit wat hulle skuldig maak aan ongemagtigde, buitengewone, vrugtelose en of spandabele uitgawes en gesê hy sal dit nie toelaat nie.
Garnett Wicomb het op 10 Mei in Die Hoorn berig dat ’n verslag oor sulke beweerde uitgawes na die munisipale rekeningekomitee vir ondersoek verwys is.
Paulse het tydens die vergadering aangedui dat daar mense binne die munisipaliteit is wat steeds munisipale wette verontagsaam.
“Ons kan nie aangaan soos in die verlede nie en sal optree teen die skuldiges. Dit maak nie saak wie jy is nie,” het Paulse by die vergadering gewaarsku.