Deur Liesel le Roux
TWEE tydelike personeellede in die kantoor van die burgemeester van die Groter Oudtshoorn is volgens onberispelike bronne summier deur die dorp se munisipale bestuurder, Allen Paulse, afgedank nadat sekere inligting onder sy aandag gebring is.
Hulle is die kantoorbestuurder, Elrico van Rooyen, en Deon Britz wat verantwoordelik was vir skakeling/ kommunikasie.
Na betroubaar verneem word, is Van Rooyen afgedank nadat Paulse daarvan bewus geraak het dat hy ’n skuldigbevinding van bedrog teen sy naam het.
Na verneem word, mag ’n persoon met so ’n skuldigbevinding agter sy naam nie in die pos aangestel word waarin Van Rooyen was nie.
Dit is nie duidelik waarom Britz afgedank is nie, maar hy is glo ook voorheen uit ’n munisipale pos in Kaapstad ontslaan.
Die pos van kantoorbestuurder is reeds twee keer – een keer verlede jaar en een keer vroeër vanjaar – in plaaslike publikasies geadverteer, maar geen aanstellings is klaarblyklik nog gedoen nie.
Paulse het aangedui dat die munisipaliteit inligting oor personeel as vertroulik beskou en hanteer en daarom nie op Die Hoorn se navrae hieroor kan reageer nie.
Die burgemeester, Colan Sylvester, het ook op navraag van Die Hoorn aangedui dat hy nie op die navraag kommentaar wil lewer nie.