Slegs wagte met geel baadjies en nommers mag in dorp optree

Die 15 nuwe karwagte vir Oudtshoorn saam met die rolspelers. Die karwagte se geel onderbaadjies – elk met sy eie nommer (foto bo) wys hulle is deur die munisipaliteit gemagtig om as karwagte diens te doen. Die rolpelers by hulle bo is van links Darryl Erasmus (wetstoepasser, derde van links), Ivan Human (verkeersdiens, vyfde van links), kapt Wynand du Plessis (SAPD), Patrick Jordaan (waarnemende verkeershoof), Dean Claassen (CWU), Hennie Davel (Besigheidskamer), Dennis Nghonyama (maatskaplike ontwikkeling) en Jason Arries (wetstoepasser). Foto’s: Angelique Erasmus

Deur Liesel le Roux
Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit se verkeersdiens het vanoggend (Donderdag, 31 Mei) ‘n nuwe karwagstelsel vir die Oudtshoorn-middedorp geloods. Dit maak deel uit van ‘n inisiatief tussen verskeie rolspelers om die middedorp te beveilig en mense uit te skakel wat onnodig op straat saamdrom.
Volgens Patrick Jordaan, waarnemende verkeershoof van Oudtshoorn, is samesprekings gevoer met mense wat informeel as karwagte werk, waarna die munisipaliteit 15 van hulle geïdentifiseer het en gemagtig het om ingevolge munisipale verordeninge motorryers binne besig- heidsure by te staan met parkeerplek. Dit is ‘n vrywillige diens waarvoor die karwagte geen salaris ontvang nie.
Geen ander selfaangestelde karwagte mag meer in dié gebied in die strate aktief wees nie.
Volgens Jordaan mag die karwagte mense help, maar mag hulle nie bedel of vir geld vra nie. Tevrede motoriste kan egter vrywillig vir die mense ‘n fooitjie gee aangesien dit hul enigste bron van inkomste sal wees.
Die karwagte dra elkeen ‘n geel onderbaadjie met ‘n spesifieke nommer wat daagliks gedra moet word. Die wagte is almal ouer as 18 jaar en sal hulp verleen in Hoogstraat, Kerkstraat, St Johnstraat en Baron van Reedestraat.
Die publiek kan die verkeersafdeling kontak by 044 203 3121 as hulle enige probleem ondervind en die wag se nommer en die aard van die probleem rapporteer.
Die rolspelers betrokke by dié poging om Oudtshoorn se middedorp veiliger te maak, is die munisipaliteit, die polisie, maatskaplike ontwikkeling, die Oudtshoorn Besig-heidskamer en die nasionale Community Works Programme (CWP).