• Preston Titus-moordsaak

’n Vriendelike Magdaleen Titus (links) en ’n vriendin Maandagoggend op die Checkers-parkeerterrein. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van die vier verdagtes wat van die moord op die soldaat, Preston Titus, aangekla word, is Maandagoggend in die Oudtshoorn Landdroshof deur landdros Roelf Konstabel tot 11 Julie uitgestel omdat daar nog vir forensiese en finansiële verslae asook selfoonrekords gewag word.
Die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, het die hof om uitstel gevra omdat die ondersoek nog nie heeltemal afgehandel is nie. Sowat tagtig persent van die ondersoekwerk is egter afgehandel, het Weyers, gesê.
Net drie van die vier verdagtes het die oggend in die beskuldigdebank ingeskuif – die oorledene se weduwee, Magdaleen (Maggie) Titus, Justice Mooi van die Oos-Kaap en Masimthembe “MJ” January, die laaste verdagte wat in hegtenis geneem is.
Al drie het strak in die hof voorgekom.
Die vierde verdagte, Nathasia (Tessa) Stuurman, was afwesig omdat sy in die hospitaal opgeneem is.
Stuurman was sewe maande swanger toe sy in April borgtog verkry het. Haar regsverteenwoordiger het ook gevra om verskoon te word.
Titus se regsverteenwoordiger, Joshua Greeff, het beswaar aangeteken teen die uitstel van die saak, veral aangesien sy kliënt vanaf Worcester – waar sy ingevolge haar borgvoorwaardes moet bly – na Oudtshoorn en terug vir hofverskynings moet reis. Hy het egter die landdros se verduideliking aanvaar.
Die hof het ook gehoor dat daar ’n nuwe ondersoekbeampte in die saak is, en dat ao Daromé Burger nou die saak oorgeneem het. Die vorige ondersoekbeampte was ao Martin le Roux.
Titus en Stuurman se borgtog van onderskeidelik R30 000 en R15 000, sowel as hul borgvoorwaardes, is deur die hof verleng.
Adv Weyers het ook aangedui dat “MJ” January volgende week, 12 Junie, om borgtog sal aansoek doen.