Goeie nuus vir padgebruikers!

Die beoogde opgraderingswerk van die pad tussen George en Oudts­hoorn sal van hier af, vanaf die T-aansluiting met die Langkloofpad, begin.                                                                                                        Foto: Liesel le Roux

Die beoogde opgraderingswerk van die pad tussen George en Oudts­hoorn sal van hier af, vanaf die T-aansluiting met die Langkloofpad, begin. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
DAAR is uiteindelik goeie nuus vir padgebruikers van die N12 tussen Oudts­hoorn en George. Verskeie bot­sings vind op gereelde basis op dié besige pad met sy talle draaie plaas.

Opgraderingswerk aan ’n groot deel van die pad behoort teen die einde van vanjaar te begin en teen November 2019 voltooi te wees. Dit sluit  die konstruksie van ’n aantal dubbellane in waar voertuie sal kan verbysteek, onder meer teen opdraandes.

Volgens Byron la Hoe, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke, strek die ge­deelte van die pad waaraan gewerk gaan word, vanaf die T-aansluiting by die Langkloofpad tot omtrent halfpad na Oudtshoorn.

Hy sê die departement is tans besig met die voorbereiding van tenderdokumente vir dié onderhoudswerk.

Die res van die pad na Oudtshoorn sal hopelik ook opgegradeer word. Volgens La Hoe beoog die departement om ’n konsultant aan te stel om die res van die pad na Oudtshoorn te ondersoek, onder meer met die oog op maatreëls om die veiligheid van die pad te verbeter.

• Bouwerk aan die R341 tussen Oudts­hoorn en De Rust sal die einde van die maand deur ’n nuwe kontrakteur hervat word nadat die vorige  kontrakteur onder likwidasie geplaas is toe ’n poging tot sakeredding nie geslaag het nie.