Airbnb’s moet hersoneer

Toerisme
INWONERS van Oudtshoorn wat Airbnb’s en ander verblyfplekke uit hul huise bedryf sonder dat dit daarvoor gesoneer is, oortree wetgewing, sê Niel Els, bestuurslid van die Oudts­hoorn Besigheidskamer.

Els sê bestuurslede van die Besigheidskamer het Dinsdagoggend ’n lys met 435 name van verblyfplekke aan die munisipaliteit oorhandig.

“Die munisipaliteit moet ondersoek instel of die plekke op die lys aan die betrokke wetgewing voldoen om dit te mag doen. Dit sluit ver­plig­te munisipale hersonering en ook by­voorbeeld sekere belasting en ge­­sond­heidswetgewing in. Dit is onwet­tig om ’n privaatwo­ning as gastehuis of Airbnb te bedryf sonder dat dit daarvoor gesoneer is.”

Els sê daar is ook kommer oor verblyfplekke wat sonder dranklisensies sogenaamde “honesty bars” en kroeë bedryf en betaling vir drank ontvang.

Kapt Louis Visser, poisiewoordvoerder, ­het by navraag van Die Hoorn gesê géén persoon mag sonder ’n dranklisensie drank verskaf nie. “Om drank te ver­skaf deur ’n ‘honesty bar’ is ’n oortreding van die Drankwet.”

’n “Honesty bar” is ’n kroegie of yskas waar betaling van die drank aan die gas oorgelaat word.

Julia le Roux, speaker van die munisipaliteit, het bevestig dat die lys deur die munisipaliteit ontvang is en daaraan aandag geskenk word. (Berig deur Liesel le Roux)