
Philippus Draai en sy suster Cathleen Dido. Foto verskaf
’N 63-JARIGE inwoner van Oudtshoorn is gistermiddag (Donderdag 7 Junie) deur twee Amerikaanse veghonde (pitbull terriërs) in die weermagkamp op die dorp aangeval en wreed doodgebyt.
Phillipus Draai was besig om in sy suster, Cathleen Dido, se erf in Floridalaan te werk toe die veghonde na bewering uit ’n buurman se erf losgebreek en hom ten aanskoue van Dido en ander aan die nek beetgekry en verskeur het.
Na verneem word, het een van die veghonde die begin van die jaar ook ’n ander hond doodgebyt en moes inwoners al by verskeie geleenthede vir die honde vlug.
Volgens Raymond Solomons wat in Dido se erf woon, het een van die veghonde wat losgekom het, hom gejaag toe hy die middag tuis kom, maar kon hy betyds die huis haal. Hy het daarop gehardloop om Draai te gaan waarsku, maar die ander veghond het oor die heining gespring en die twee honde het Draai se voete onder hom uitgehardloop voordat hy kon wegkom.
Solomons, Dido en haar seun moes aanskou hoe die veghonde vir Draai verskeur.
Die honde is deur die eienaar na ’n veearts geneem waar hulle uitgesit is.
Volgens kapt Louis Visser, het die voorval omstreeks 15:58 plaasgevind en is die polisie tans besig met ’n geregtelike doodsondersoek. (Berig deur Liesel le Roux en Angelique Erasmus)