
Die Eden Rampbestuursentrum het gister reeds alle plaaslike owerhede in die Eden-streek versoek om op ‘n hoë gereedheidsvlak te wees met erge winderige toestande wat op pad is en na verwagting tot Donderdag sal duur.
“Ons verwag vanaf vandag na môre, veral teen die kusgebiede, westelike rukwinde van tot 90 km/h,” sê Gerhard Otto, bestuurder van rampbestuur.
Volgens die SA Weerdiens kan die rukwinde sterker as 70 km/h in die Klein Karoo waai.
Terseldertyd het die SA Weerdiens ‘n ernstige waarskuwing vir veldbrandtoestande vir die Eden Distrik en die Sentraal Karoo Distrik uitgereik. Die langdurige droogte in die dele en sterk rukwinde wat voorspel word, skep die ideale toestand vir veldbrande wat vinnig kan versprei.
Mense word versoek om nie vuur buite te maak of vure alleen te los nie. Hulle word ook versoek om nie sigaretstompies by motorvensters uit te gooi of bottels in die veld te gooi wat die son se strale kan versterk en so ‘n brand kan veroorsaak nie.
Inwoners in die gebied word versoek om enige brande dadelik aan te meld. Moet ook nie water op ‘n brand gooi wat veroorsaak is deur ‘n elektriese fout, olie of paraffien nie, maar gebruik sand of ‘n kombers om dit te smoor.
” Indien nodig sal die Eden Rampbestuursentrum ‘n gesamentlike operasionele sentrum (GOS) bymekaar roep om ‘n platform te skep van waar aksies gekoördineer kan word.”
Tot in die stadium is geen stormskade of enige brande by die Eden Rampbestuursentrum aangemeld nie.
(berig deur Liesel le Roux)