Pastoor huil toe hy borgtog kry


‘n 58-jarige pastoor van Oudtshoorn het begin huil nadat die hof vanmiddag borgtog van R10 000 aan hom toegestaan het.

Van sy gemeentelede wat in die hof was om hom te ondersteun, het ook gehuil.

Die pastoor is verlede week in hegtenis geneem nadat ’n vrou klagtes van onsedelike aanranding en verkragting teen hom ingedien het. Hy het verlede Woensdag die eerste keer in die hof verskyn in verband met vyf klagtes – drie van onsedelike aanranding en twee van verkragting – wat na bewering in September 2003 plaasgevind het toe die klaagster nog minderjarig was. Sy naam mag nie genoem word nie om die klaagster te beskerm.

Die pastoor het in sy borgaansoek aangedui dat hy in staat is om R5 000 vir borgtog te betaal, maar landdros Johan Steynberg het gesê dat die gemeentelede wat hom kom ondersteun het, waarskynlik sal kan bydra tot borgtog van R10 000.

Die Oudtshoorn Polisie het Vrydag teenoor Die Hoorn bevestig dat ‘n tweede vrou intussen ook na vore gekom en ’n verklaring afgelê het waarin sy beweer dat sy ook deur die pastoor verkrag is.

Haar verklaring sal volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, aan die staatsaanklaer voorgelê word wat sal besluit of dit by die huidige dosier gevoeg gaan word en of nog ’n dossier geopen sal word. (Berig: Angelique Erasmus en Liesel le Roux)