
DIE hofsaak teen vyf Oos-Kaapse mans wat aangekla word van die nagtelike diefstal van verskeie voertuie in Oudtshoorn in Augustus vanjaar, het Vrydag in die streekhof op Oudtshoorn afgeskop.
Borgtog van R3 000 is deur landdros Roeld Konstabel aan een van die mans, Xola Maja van Umtata, toegestaan.
Konstabel het beslis Xola Maja van Umtata moet twee maal per week by die polisiekantoor naaste aan sy blyplek aanmeld, hy mag nie uit die Wes-Kaap of Oos-Kaap reis sonder om ao Daromé Burger, die ondersoekbeampte in die saak, vooraf in kennis te stel nie en moes ook sy paspoort of enige ander reisdokumente aan haar oorhandig.
Drie ander mans wat saam met Maja verskyn het, het nie aansoek gedoen om borgtog nie. Hulle is Lusanda Hlomela, Mawetu Koloweni en Yandisa Msenbenzi.
Die vyfde verdagte het nog nie voorgekom nie.
Maja se regsverteenwoordiger is Sivuyiel Nkongeni van Umtata. Die staatsaanklaer is Brandon Smith.
• Die voertuie wat tussen Dinsdagaand, 21 Augustus, en Woensdagdagoggend, 22 Augustus gesteel is, is ’n Isuzu-bakkie van Louis Alberts wat uit sy erf in Jan van Riebeeckweg gesteel is, ’n Hyundai H100-trokkie van Blain de Villiers wat uit sy erf in Ellystraat gesteel is en ’n Toyota Corolla 1600 van Anja Dippenaar wat uit die erf in Buitekantstraat gesteel is.