Magdaleen Titus en haar regsverteenwoordiger, Henk Carstens, Maandag in gesprek in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn. Die saak is uitgestel tot November wanneer Magdaleen sal getuig. Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
DIE saak teen ’n gewese ANC-raadslid van Oudtshoorn, Magdaleen (Maggie) Titus en drie mede-beskuldigdes is Maandag in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn tot 6 November uitgestel.
Titus, Justice Mooi, Natashia Stuurman en Masithembe (MJ) January staan tereg op die moord op Titus se man, Preston Titus op 1 Desember 2017.
Magdaleen se regsverteenwoordiger, Henk Carstens, het aangedui dat Magdaleen in November sal wil getuig.
Hy het aan die hof gesê dat sy te siek was om Maandag te begin getuig.
Die saak is deur regter Nolwasi Boqwana uitgestel nadat Magdaleen ’n mediese sertifikaat by die hof ingehandig het wat geldig is tot 18 September.
Die staat het verlede week sy saak teen die beskuldigdes gesluit.
Mooi se regsverteenwoordiger, adv Stoffel Prinsloo, het Maandag aangedui dat hy geen getuies gaan roep nie en dat sy kliënt nie verder in die saak gaan getuig nie.
Magdaleen, Stuurman en MJ se borgvoorwaardes is tot dan verleng, terwyl Mooi in aanhouding bly.