Jantjies geïnspireer deur verfraaiing op Oudtshoorn

June Jantjies (68) van Dysselsdorp by haar verfraaiiingsprojek op die dorp. Foto’s: Christine Schoeman

Deur Christine Schoeman
JUNE JANTJIES (68), ’n afgetrede inwoner van Dysselsdorp en vrywil­lige werker by Poplap Kleuterskool, het in Junie vanjaar haar eie verfraaiingsprojek in die klein dorpie Dysselsdorp aangepak.

Sy sê dat die talle, pragtige verfraaiingsprojekte van Oudtshoorn en die opknappingswerk van Santa Cassara (sien 30 Mei-uitgawe) het haar só geïnspireer dat sy besluit het om die oop stuk erf in Dysselsweg, wat toe was onder die rommel, skoon te maak en mooi te maak met gekalkte klipbeddings, aalwyne en kaktusse.

“Hierdie was eers ’n plek van sonde. Jong mense het selfs gereeld gedrink en dwelms gebruik tussen die rommel, maar dit is darem nou ’n ding van die verlede nadat ons hier opgeruim het,” sê Jantjies.

Sy het die projek met die hulp van ’n groep vrywillige kinders wat in haar nasorggroep is, tydens die Junie-skoolvakansie afgeskop. Die kinders is tussen sewe en 14 jaar oud.

“Die kinders was baie fluks en opgewonde oor die projek. Hulle het my so baie gehelp.”

Jantjies sê sy versamel die klippe en plante waar sy dit in die veld sien.

Sy gaan intussen aan om op te ruim en mooi te maak, iets waarmee nog ’n vrywilliger van Dysselsdorp, Jonas Loues, haar soms kom help.

Gedurende die week versamel sy haar gryswater in 5 liter-kanne om die plante elke Maandag en Vrydag nat te gooi.

Jantjies kry baie gedoen met die bietjie wat sy het. Sy gebruik ’n stuk­kende hark en kruiwa, graaf en pik wat sy by die Poplap Kleuterskool leen om die projek klaar te maak.

Donasies in die vorm van tuinhandskoene, tuingereedskap, ’n besem, waterslim plante soos aalwyne en kaktusse (verkieslik iets wat die rondloper-donkies en skape nie sal vreet nie), koeltebome, gryswater en klippe sal baie waardeer word.

• June Jantjies is in 2013 deur Die Hoorn vereer vir ’n groentetuin, naaldwerkprojek en die Poplap Kleuterskool wat sy op Dysseldorp begin het. Sy is ook in 2006 aangewys as Community Woman Achiever deur die departement van gesondheid vir haar diens aan die gemeenskap.