DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het Maandag opnuut ’n beroep op Oudtshoorniete gedoen om hul drinkwater te kook nadat die waterkwaliteit verswak het na die onlangse 75 mm-reën in die opvangsgebied van die dorp se drinkwaterdam, die Raubenheimerdam.
Die modderwater wat met dié reën die dam ingestroom het, veroorsaak die vertroebeling van die water.
Luidens ’n persverklaring wat die munisipaliteit Maandag uitgereik het, is die chloor waarmee die water ontsmet word, nie so effektief wanneer die water troebel is nie en word inwo-ners daarom aangemoedig om hul drinkwater te kook totdat die waterkwaliteit na normaal terugkeer.
Oudtshoorn het nog nooit sedert die Raubenheimerdam in die 1970’s gebou is, ’n watersuiweringsaanleg gehad nie.
Die nasionale standaard beveel aan dat watertroebelheid onder 1 NTu (die eenheid waarin troebelheid gemeet word) moet wees. Onder normale omstandigheid wissel die NTu van Oudtshoorn se water tussen 0,5 en 3 NTu, wat as aanvaarbaar beskou word. Direk na die reën het die NTu egter tot by 40 gestyg en intussen na 30 gedaal.
Luidens die verklaring behoort die watergehalte binne ’n paar weke weer na normaal terug te keer. “Die toename in troebelheid hou geen direkte gevaar in nie, maar kan die effektiwiteit van die chlorinering beïnvloed. Die kwaliteit word gereeld getoets en daar is geen tekens van E.Coli in die water nie. E.Coli is ’n aanduiding dat daar skadelike bakterieë in water mag wees.”
Suiweringsaanleg vir dorp ondersoek
Die munisipaliteit ondersoek tans opnuut die oprigting van ’n watersuiweringsaanleg en ook wyses vir die moontlike befondsing daarvan.
’n Ondersoek wat in 2014 gedoen is, het egter aangedui dat die beraamde koste van so ’n aanleg toe al sowat R100 miljoen was.
Kook jou drinkwater!
