Kragtariewe verlaag

DIE Groter Oudtshoorn se residensiële elektri­siteitstariewe is pas verlaag nadat die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) slegs ’n styging van tussen 5,5% en 7% in dié tariewe goedgekeur het.
Die nuwe laer tariewe word geïmplementeer op onderskeidelik 1 Desember 2019 vir voorafbetaalde elektrisiteitsverbruikers en op 13 Desember 2019 vir konvensionele elektrisiteitsverbruikers.
Die laer tariewe is terugwerkend tot Julie 2019.
Inwoners sal vergoed word op twee maniere – voorafbetaalde elektrisiteitsverbruikers sal eenhede wat te min voorsien is in die periode vanaf Julie tot November 2019, vanaf 5 Desember 2019 met hulle normale elektrisiteitsaankope ontvang. Konvensionele elektrisiteitsverbruikers sal hul voor­deel as ’n krediet op hulle volgende munisipale rekening ontvang.
Hoewel Nersa op 28 Junie 2018 ’n gemiddelde verhoging van 13,07% in elektrisiteitstariewe vir die 2019/2020-boekjaar goedgekeur het, het dit later aan die lig gekom dat Nersa aangedui het dat residensiële elektrisiteitstariewe slegs tussen 5,5% en 7% mag styg.
Die munisipaliteit gaan volgens ’n kennisge­wing wat verlede week in Die Hoorn gepubliseer is, ’n verlies van R7,7 miljoen ly met die afwaartse aanpassing van die tariewe. Luidens dié kennisgewing sal die verlies in elektrisiteitsinkomste verhaal word deur die munisipaliteit se operasionele uitgawes wat nie direk met dienslewering gepaard gaan nie, afwaarts aan te pas.

Deur Liesel le Roux

2 Comments on "Kragtariewe verlaag"

  1. Moravian church at Wuppertal plan to increase our tariff from R2 a unit to R3 a unit. This seems to be unfair seeing that most of the people are pensioners and receiving only there government grant as income. They do not even qualify for free units.

  2. What about the tarrifs for your electricity meter. Is this tarrif legal?

Comments are closed.