Maggie skuldig aan huurmoord op haar man

Magdaleen Titus nadat sy skuldig bevind is aan die huurmoord op haar man, Preston. Sy en Mooi word volgende jaar gevonnis. Albei is tans in aanhouding. Foto: Angelique Erasmus

DAAR was Vrydag groot vreugde en ’n gejubel soos min in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn toe Magdaleen Titus, ’n voormalige ANC-raadslid en vrou van die vermoorde soldaat, Preston Titus, en een van haar medebeskuldigdes, Justice Mooi, skuldig bevind is aan die moord op haar man en regsverydeling.
Hofgangers het het op die hofbanke gespring en hande geklap toe Titus en Mooi na die hofselle gelei is.
Die ander twee beskuldigdes, Natashia Stuurman en Masithembe (MJ) January is op albei klagtes vrygespreek omdat daar nie bewyse is dat hulle deel van die beplanning van die moord was nie. January het na dié uitspraak op sy knieë neergesak terwyl die trane oor sy wange geloop het.
Regter Nolwazi Boqwana het Magdaleen as die meesterbrein agter die be­plan­ning van haar man se moord asook ’n groot leuenaar bestempel. Volgens Bo­qwa­na het sy haar getuienis aan­gepas en is dit moontlik dat sy die moor­denaars toegelaat het om die huis binne te kom en haar man in die aangrensende slaapkamer te vermoor. Daar was geen teken van ge­dwonge toegang tot die huis nie.
Volgens die regter is dit hoogs onwaar­skynlik dat Titus so diep geslaap het dat sy nie kon hoor wat in haar man se slaapkamer aangaan nie. Sy het haar ook weerspreek oor die onbekende man wat saam met Mooi vanaf Port Elizabeth gekom en by die Oudtshoorn Begraafplaas afgelaai en in haar voer­tuig geklim het.
Op die klagte van regsverydeling het die hof bevind dat Titus die leë pepersproeikannetjie wat deur Mooi en die onbekende man gebruik is, die Sondag vir Sixabiso Klip, haar voormalige motor­bestuurder, gegee het om van die toneel weg te neem, nadat Mooi laat weet het dat hulle dit in die huis vergeet het.
Boqwana het Klip as ’n goeie getuie bestempel wat niks sou baat by die aflê van so ’n bekentenis nie.
Ten opsigte van Mooi het Boqwana be­vind dat hy spesiaal vanaf Port Elizabeth na Oudtshoorn gereis het om die moord uit te voer. Volgens Klip se getuienis is hy saam met die onbekende persoon by die Titus-woning afgelaai, het hy handskoene aangetrek en is hulle die huis binne. Na sowat ’n halfuur het Klip hulle via Mosselbaai na George geneem waar Titus vir hulle verblyf by die Gateway Lodge ge­reël het. Klip het onderweg naby Kan­delaarsri­vier stilgehou waar die twee moor­denaars uitgeklim en die moordwa­pens, twee mes­se en ’n hamer, sowel as bebloede klere in die veld weggegooi het.
Die regter het bevind daar was geen bewyse dat Stuurman en January by die beplanning van die moord betrokke was nie.
• ’n Aansoek van Magdaleen Titus dat haar borgtog van R30 000 tot vonnisverrigtinge verleng word, is geweier. Sy en Mooi word op 3 Februarie 2020 gevonnis.
• Stafsers Preston Titus se lyk is op 2 Desember 2017 met sowat 27 steekwonde in sy huis op die perseel van die Oudts­hoorn Infanterieskool gevind.
Sy ouer broer, Howard, het na die uitspraak die familie se tevredenheid uitgespreek. “Ons het van dag een af geweet wie die moord beplan het, en die hofsaak was bloot ’n formaliteit. Ons het nou berusting en Maggie moet nou die straf dra wat sy verdien,” het hy gesê.

Deur Garnett Wicomb

Be the first to comment on "Maggie skuldig aan huurmoord op haar man"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*