5 000 Kerskoekies vir Sinterklaasfees!

DRIE jong vrywilligers van Duitsland wat tans ’n jaar lank op Oudtshoorn woon en werk, het vandeesweek sowat 5 000 Kersfeeskoekies gebak vir die St Luigi Scrosoppi Sorgsentrum in Bridgton se jaarlikse Sinterklaasfees Vrydag.
Die koekies, wat in sowat 1 200 bruinpapiersakkies gepak word, sal Vrydag aan kinders aan kinders uit die omgewing van die sentrum maar ook van elders uitgedeel word.
Jonas Bischoff (27) wat sedert Maart vanjaar as vrywilliger by die sorgsentrum werk, en Luis Laufmoeller en Janneke Seeman (albei 19) wat sedert Augustus daar ingeval het, neem leiding met vanjaar se Sinterklaasfees.
“Ons het besluit om bruinpapiersakkies te gebruik omdat dit meer omgewingsvriendelik is,” vertel Janneke.
Volgens Jonas bied die projek ’n goeie balans tussen werk en teruggee aan die gemeenskap. “Dit is ongelooflik lekker om deel te wees van hierdie wonderlike projek!”
Vir Luis is dit ’n ervaring om ook Kersfees in Suid-Afrika deur te bring. “Ons geniet dit om Suid-Afrika te verken, en ’n safari waarop ons vroeër geneem is, was ’n regte belewenis.”
Die hoogtepunt Vrydag sal die koms van Sinterklaas wees. Oor hoe dit gaan gebeur en waarop hy die terrein sal binnekom, hang egter ’n wolk van geheimhouding…
Die meer as verwagte 1 000 kinders wat verwag word, sal vanjaar ook met worsrolletjies, ysies en springmielies bederf word.
Hulle drom gewoonlik reeds van vroeg af voor die hekke saam in afwagting op wat gaan kom.
’n Konsert met sang en danspassies en die vertel van stories beloof ook om vir pret en vermaak te sorg.
• Die volksnaam Sinterklaas is afgelei van Sint Niklaas, ’n biskop van Mira – in moderne Turkye – wat in die vierde eeu geleef het en be­kend was vir sy naasteliefde en vrygewigheid. In Nederland en België, waar dié tradisie besonder sterk is, word sy aankoms op 6 Desember gevier. Dié antieke Christelike tradisie word al jare lank by die sorgsentrum hier in Oudtshoorn gevier as teenvoeter vir die kommersialisering van die feesgety.

Deur Angelique Erasmus