Jarelange verspreider van Die Hoorn sterf

Fanie Kluyts (66).

’N JARELANGE weeklikse verspreider van Die Hoorn, Fanie Kluyts (66), is gisteroggend in die Oudtshoorn Hospitaal oorlede.

Kluyts het sowat agt jaar lank Die Hoorn getrou op Donderdae by van Oudtshoorn se kafees, winkels en supermarkte versprei.

Hy het sowat ’n maand gelede siek geword en is Donderdag in die hospitaal opgeneem. Hy is aan nierversaking oorlede.

Hy was in sy jonger dae ’n groot veerpyltjiegeesdriftige, en was ook die klub­kap­tein van die Kango Veerpyltjieklub.

Volgens sy suster wat ook op Oudtshoorn woon, Marie Verwey, gaan sy hom onge­looflik baie mis, veral sy weeklikse kuietjies by haar en sy goeie humorsin.

Hy word oorleef deur twee susters en twee broers.

Schalk le Roux, uitgewer van Die Hoorn, het gister gesê almal by die koerant gaan Kluyts se vriendelikheid en beleefdheid mis.

“Fanie was ’n uiters betroubare persoon en iemand op wie ’n mens altyd kon peil trek,” het Le Roux gesê.

Kluyts se roudiens vind Sondag om 11:00 vanuit die NG Gemeente Oudtshoorn-Suid plaas.