Jongmense sterf in botsing

’n Ruiker pruik by die toneel waar Sidwell Kerspuy (25, bo), Leon Makenna (30) en Nicolene Pedro (34) verongeluk het.

Deur Liesel le Roux
DRIE werknemers van die Saag Jonker Boerdery is Saterdagoggend oorlede toe die motor waarin hulle gery het, omstreeks 02:40 op die Rooiheuwel/Kammanassiepad omgeslaan het.
Hulle was op pad huis toe nadat hulle vroeër die aand die jaarlike Klein Karoo Landbou Prestigetoekennings by De Opstal in Schoemanshoek noord van Oudtshoorn bygewoon het.
Leon Makenna (30) en Nicolene Pedro (34) het in die botsing gesterf terwyl Sidwell Kerspuy (25) later die oggend in die George Hospitaal oorlede is.
Kerspuy was Vrydagaand ’n finalis in die afdeling Tegniese Operateur, terwyl Leon en Nicolene ook sertifikate tydens die funksie ontvang het.
Kerspuy se vrou, Mona, was ook in die motor en is ernstig beseer. Sy en Sidwell is van die ongelukstoneel na die Oudtshoorn
Hospitaal geneem en daarvandaan oorgeplaas na die George Hospitaal. Mona is ná behandeling teruggestuur na die Oudtshoorn Hospitaal en ontslaan.
“Daar hang ’n donker wolk oor die plaas,” het Hazel Jonker, eggenoot van Saag Jonker, Saterdag aan Die Hoorn gesê oor die dood van dié drie jongmense.
Volgens Hazel ken sy en Saag die drie oorledenes van kindsbeen af en is hulle dood baie traumaties vir die gemeenskap van die Kammanassie.
Die Saag Jonker Groep het vandeesweek die volgende kort verkla-ring uitgereik:
“Die Saag Jonker Groep is geruk met die skielike dood van drie van sy werknemers, Sidwell Kerspuy (25), Leon Mckenna (31) en Nicolene Pedro (34). Die drie sal onthou word vir die goeie werk wat hulle in hul onderskeie afdelings gedoen het – elkeen was werklik puik. Die verlies is ook swaar vir die Kammanassie-gemeenskap deurdat die drie op die plaas grootgeword het en oral geliefd was. Hulle gaan beslis baie gemis word.”
Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê die Polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
• Die begrafnisdienste van Leon Makenna en Nicolene Pedro vind Saterdagoggend om 10:00 by hul wonings plaas, met ’n gesamentlike diens om 11:00 in die Saag Jonker Gemeenskapsentrum in die Kamma-nassie. Die teraardebestelling sal daarna by die begraafplaas oorkant die Witblok-huise plasvind.
Die begrafnis van Sidwell Kerspuy sal volgende naweek plaasvind.