Die vragmotor nadat dit Vrydag op die brug oor die spoorlyn op die De Rust-pad omgekantel het. Foto: Japie Reinhart
Deur Angelique Erasmus
DIT het die insleepdiens Vrydag sowat ‘n uur en ’n half geneem om ’n 30 ton-vragmotor te verwyder wat omgeslaan het op die brug net buite Oudtshoorn op die De Rust-pad.
Die vragmotor van Van der Berg Vervoer moes ’n vrag klip en sand op dié brug aflaai toe dit omgekantel het.
Volgens Hugo van der Berg, mede-eienaar van die maatskappy, verskaf hulle klip en sand aan die kontrakteur wat tans die opgradering van die Oudtshoorn-De Rust-pad doen.
Met die aflaaislag en as gevolg van die helling van die brug het die gewig van die vrag die trok laat omslaan.
Van der Berg sê die bestuurder kon gelukkig daarin slaag om betyds uit te spring, maar het in die proses sy heup beseer. Hy is op die toneel vir skok behandel.
Die omvang van die skade aan die vragmotor is nog nie bepaal nie.