‘Dit was ’n professionele job’

Bo: Polisiebeamptes gisteroggend vroeg buite Timbercity op Oudts­hoorn.
Foto onder:  Twee van die sewe gate wat in Timbercity se plafon gemaak is en waardeur die inbrekers die gebou binnegekom het.  Foto’s: Schalk le Roux

Deur Schalk le Roux
“DIT was ’n professionele job,” sê André van Greu­nen van Timbercity in Jacobsonstraat op Oudts­hoorn oor inbrekers wat tussen Dinsdagaand en Woensdagoggend deur die besigheid se dak toegang tot die onderneming gekry het.

Die inbrekers het die kluis van Timbercity met ’n sweisvlam oop­gesny en al die geld wat daarin was gesteel.

Die inbrekers het eers ’n gat in die heining aan die agterkant van Timbercity se perseel gesny waarna hulle minstens sewe gate in die dak ge­maak het waardeur hulle in die win­kel ingekom het. Die rede vir die baie gate in die dak is nie duidelik nie.

Een van die gate was aan die bokant van Van Greu­nen se kantoor. Toe een van die inbrekers deur die plafon in die kantoor gespring het, het hy bo-op die besigheid se rekenaarbediener geland en dit aan flarde gebreek.

Al Timbercity se finansiële en bedryfsinlig­ting is op die bediener.

Timbercity het ’n stelsel wat elke aand ’n afskrif (backup) van al die inligting op die bediener op ’n rekenaar op George dupliseer.

Met Die Hoorn se besoek aan Timbercity gisteroggend was die Polisie besig om die misdaadtoneel te ondersoek.

Volgens Van Greunen het die Polisie aan hom gesê die inbrekers het geweet wat hulle doen. Hulle het die inbraak afgehandel sonder dat Timbercity se alarmstelsel afgegaan het.

Daar was volgens Van Greunen ook geen getuie- ­­nis op die sekuriteits­kameras oor die inbraak nie.
Volgens sers Gretchen Michaels het die inbraak tussen 17:50 Dinsdagaand toe die besigheid se deure gesluit is, en 06:50 Woensdagoggend toe die perseel geopen is, plaasgevind.

“Volgens die klaer het hy die perseel (Timbercity) se deure om 17:50 gesluit. Toe hy van­oggend gaan oopsluit, het hy verskeie gate in die dak gevind met gereedskap ter waarde van R16 592 wat gesteel is.”

Die totale skade wat Timbercity gely het weens onder meer die stukkende dak, die bediener, die kluis en die inhoud van die kluis is na raming nie ver van ’n miljoen rand af nie.

• Van Greunen bied ’n beloning van R20 000 aan vir inligting wat sal lei tot die skuldigbevinding van die oortreders.

Kontak Shaun Westraad by 072 516 5008 indien u enige inligting het.

Angelique Erasmus berig dat ’n tweede besigheid op Oudtshoorn, Savers Lane, verlede Donderdagnag op soortgelyke wyse deur die dak besteel is.

Inbrekers het by dié besigheid naby die taxi­staanplek dakplate verwyder om van bo af toegang tot die perseel te verkry. Volgens Michaels moes die inbraak tussen 17:20 op Donderdag, 11 April, en 07:30 op Vrydag, 12 April, plaasgevind het.

Die besigheid se kluis is met ’n hoeksnyer oopgesny en goedere ter waarde van R70500 ge­steel.

Die bestuurder het gevra om anoniem te bly en wou geen inlig­ting be­kend maak nie “omdat die po­li­sieondersoek nog aan die gang is”.