Skok oor dood van veiligheidswag langs heining

Tjaart van der Walt (48). Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
“TJAART was een van my betroubaarste werknemers, altyd op sy pos en bereid om die ekstra myl te stap en meer te gee as wat van hom verwag is.”

So het Harry Coetzee, eienaar van Blacklist Security, die veiligheidswag Tjaart van der Walt (48) beskryf wie se liggaam Sondagoggend langs die heining binne die terrein van die Klein Karoo Emporium op Oudtshoorn gevind is.

Van der Walt het in die omgewing van die silo’s by die Emporium gewerk.

’n Lykskouing Maandag het getoon dat hy gesterf het nadat ’n bloedklont deur sy hart is.

Van der Walt se liggaam is Sondagoggend deur voetgangers raakgesien wat oor die brug in Langenhovenweg naby die Emporium gestap het.

Van die voetgangers het die polisie ontbied, maar die polisie kon aanvanklik nie toegang tot die perseel verkry nie omdat die sleutels by Van der Walt was.

Ambulanspersoneel wat kort daarna op die toneel was, het Van der Walt dood verklaar.

Aanvanklik is vermoed dat Van der Walt dalk lemmetjiesdraad wou herstel en moontlik aan die geëlektrifiseerde heining geraak en as gevolg daarvan geval en sy kop teen ’n klip gestamp het. Dit was egter nie die geval nie.

Coetzee het ook op Die Hoorn se Facebookblad die versekering gegee dat die nodige bordjies op die geëlektrifiseerde heining aangebring is, en die nodige sertifikaat daarvoor uitgereik is.

• ’n Roudiens vir Van der Walt vind vandag (Donderdag) vanuit die NG Kerk Suid om 10:00 plaas.

Sy swaer, Jannie Lategan, sê hy was iemand wat altyd tyd gehad het vir sy medemens en amper nooit nee gesê nie. “Hy het Vrydag by Spar gewerk in plaas van by die silo’s, en sy susters het hom toe­vallig die dag raakgeloop. Ons glo God het hom juis daardie dag daar by Spar geplaas sodat hy vir Kotie en Ina kon groet,” sê Lategan.

Van der Walt laat sy vrou Ingrid, susters Kotie Lategan en Ina Wentzel, en ’n broer Frikkie van der Walt na.

Uit die talle inskrywings op Die Hoorn se Facebook-blad, blyk dit dat Van der Walt ’n bekende onder inwoners was, en altyd behulpsaam en beleefd was.