‘Die ergste droogte in onlangse heugenis’

DIE voortslepende droogte in die Groter Karoo-gebied wek steeds kommer, sê Anton Bredell, Wes-Kaap­se minister van plaaslike rege­ring, omgewingsake en ontwik­kelingsbeplanning.

“Hierdie is die ergste droogte in onlangse heugenis en ’n ongekende gebeurtenis.

“Daar is verskeie kundiges wat op voortdurende basis die situasie moniteer.”

Bredell het die gebied verlede week besoek en verteenwoordigers van munisipale rade ingelig oor die Groter Karoo Droogteherstel-aksie­plan.

Hy sê die goeie nuus is dat daar op kort termyn voldoende water in reservoirs in die Groter Karoo is en geen watertekorte tans binne dorpe in die gebied ervaar word nie.

“Dit bied die droogte-taakspan tyd om medium- tot langtermyn-oplos­sings te ondersoek en te implemen-teer.

“Een hiervan is die Blossoms-pyp­lynprojek.”

Die departement het die afgelope twee jaar droogtehulp en waterverbeteringsprojekte van R26,8 miljoen aan vier van die munisipaliteite verleen wat die ergste deur die droogte geraak word, naamlik Beaufort-Wes (R8,96 miljoen), Laingsburg (R8,8 miljoen), Prins Albert (R2 miljoen) and Kannaland (R7 miljoen).

Oor die hele provinsie is altesame R82,5miljoen tydens die afgelope boekjaar hieraan bestee.

Hy het inwoners van die streek aangemoedig om waterverbruik so ver moontlik te verminder tot 50 liter per dag en plaaslike rade versoek om strenger waterbeperkings in te stel.

Ons wil inwoners ook aanmoedig om waterlekke en ander waterprobleme aan te meld.”