Oudtshoorn is die land se volstruishoofstad, ja, maar moenie dink dis al wat in dié omgewing aangaan nie. Hier’s ses draaie wat jy maklik in ’n oggend of namiddag kan gooi.
1. Tel driwwe in Meiringspoort
Spookdrif, Witperdedrif, Skelmkloofdrif, Wasgatdrif… Gaan wys Meiringspoort vir die kinders en laat hulle tel hoeveel keer julle oor die Grootrivier ry. (Terloops, dis ’n verstommende 25 keer.)
Hierdie poort deur die Swartberg verbind De Rust met Klaarstroom en dateer uit 1858 toe die boere ’n plan moes maak om wol uit die Karoo by die hawe in Mosselbaai te kry. Thomas Bain het die pad ná erge vloedskade in 1885 verbeter.
Wees op die uitkyk vir die klip waarop C.J. Langenhoven in 1929 die naam van sy verbeeldingsolifant, Herrie, uitgekerf het. En trek tussen Uitspan- en Ontploffingsdrif af by die waterval. Dis 60 m hoog, die poel daaronder 9 m diep, en die pret wat ’n mens op ’n warm dag hier kan hê, oneindig.
Waar? Noord van De Rust, ongeveer 35 km oos van Oudtshoorn met die N12 langs.
2. Sit ’n slangserp om jou nek
Volg die R328 (die Kangopad) wat van Baron van Rheedestraat se punt af noord uit Oudtshoorn streep en trek by dié drie plekke af:
- Die Cango Wildlife Ranch lê op die soom van die dorp en hier leef en beef ’n hele ark vol diere. Kom kyk hoe lyk ’n wit leeu en ’n vlermuis so groot soos jou foxterriër by die huis, soek blouduikers in die ruigtes, kielie ’n jagluiperdwelpie, en staan vir ’n foto met ’n slang om jou nek.
Waar? 500 m verby die laaste woonhuis in Baron van Rheedestraat, aan die linkerkant.
- ’n Mens kan nie in die Klein-Karoo kuier en nié ’n volstruisplaas besoek nie. Reguitaan met die pad wag die Cango Ostrich Show Farm se langnekke. Kom voer die kuikens, staan op ’n eier om te toets hoe sterk die dop is… jy kan selfs op ’n volstruis ry (mits jy minder as 75 kg weeg!).
Waar? 14 km anderkant die Cango Wildlife Ranch.
- En dan is daar natuurlik die Kangogrotte. Kruip deur noutes, vergaap jou aan die Orrelpype, streel oor die klam spelonkmure en groet jou innerlike grotman. Dís waarskynlik die een wat die kinders die langste gaan bybly.
Waar? 15 km anderkant die Cango Ostrich Show Farm.
3. Doen die meerkatloop
In Uganda kan jy saam met berggorillas stap, in Namibië saam met jagluiperds, en op Oudtshoorn… is dit meerkatte! Op Meerkat Adventures se toer kry jy ’n intieme kykie na die wêreld van hierdie kostelike diertjies. Devey Glinister of een van sy medegidse vertel jou interessante dinge oor meerkatte. Dié groepie meerkatte (sowat 10 tot 15 sterk) is wild, maar is lankal gewoond aan mense. Sodra hulle pens warm is, begin hulle kos soek – en dan moet jy soms draf om by te bly…
Waar? 9 km wes van Oudtshoorn waar die R328 afdraai van die R62.
4. Toets jou senuwees
Meiringspoort se wilder boetie is die Swartbergpas, en dis waar ’n mooi uitsig en ’n tuimeltreinbaan ontmoet – in stadige aksie. Al is die pas skaars 25 km lank, neem dit jou maklik ’n uur en ’n half om van Oudtshoorn se kant tot op Prins Albert te ry.
Die pad na die pas draai net voor die Kangogrotte na links weg en loop verby ’n eetplek genaamd Kobus se Gat, tot waar die teerpad ’n grondpad word – nou’s jy op die pas.
Vat dit stadig en rek jou nek om die draaie – ’n mens kan nie mooi sien of daar verkeer aankom nie (veral op Skelmdraai!). Teen die tyd dat jy by Die Top kom, is jou voorarms al seer geklou aan die stuurwiel, maar nou kan jy aftrek en die uitsig oor die Klein- én Groot-Karoo geniet. En dán begin die sports: Aan die Prins Albert-kant gooi die pas kronkels soos ’n slang met stuipe, en plek-plek raak ’n ou se keel droog wanneer jy ’n aankomende kar op die smal grondpad moet verbygaan.
5. Skop stof op
Die Klein-Karoo is vol verrassings. Soos die poskaartmooi grondpad wat deur die Groenfonteinvallei tussen Oudtshoorn en Calitzdorp loop, al onder die Swartberg langs. Jy’s skaars van die teerpad af, dan sien jy al die roesrooi sandsteenknoetse – die Redstone Hills – in die verte. Trek af, haal die koffiefles agter die sitplek uit en hou dop hoe die sonsopkoms sy gloed stadig oor die klippe skuif. Wees ook op die uitkyk vir die Boogrots links (foto bo).
Op hierdie pad is daar verskeie aktwiteite wat jy kan doen. Proe een van Peter Bayly se uitmuntende portwyne (regs na die Oude Poskantoor) en besoek Clementina van der Walt se keramiekgalery (Kraaldoring-opstal). Van Kraaldoring af het jy nog sowat 10 km se lekker slingerpad deur die mooi Groenfonteinvallei oor, verby die Nelsdam tot waar die pad by Calitzdorp se hoofstraat aansluit. Daarsy, tyd vir bene rek. Hier is talle koffiewinkels waar jy keel kan natmaak.
Waar? Volg die R62 wes en draai sowat 34 km buite Oudtshoorn regs op die Kruisrivierpad.
6. Maak keel nat
Noudat jy op Calitzdorp is, kan jy net sowel die “Porthoofstad” se bekende kelders aandoen:
• Boplaas is al sewe geslagte in die Nel-familie. Sy Tawny Reserve, Cape Vintage Port en Bobbejaanberg Sauvignon Blanc is ’n goeie begin. Die kerkgebou op Boplaas se wynetikette is die NG kerk op die dorp. Vir die reg dat die kerkgebou op die etiket verskyn, maak Boplaas die nagmaalwyn!
Waar? Draai uit die hoofstraat suid in Queenstraat en dan regs in Saaymanstraat.
Kontak 044 213 3326;
• De Krans is veral bekend vir sy Vintage Reserve Port. Buiten die reeks portwyne kan jy ook wit-, rooi- en soetwyn proe. Tydens die KKNK maak De Krans ook skemerkelkies – met port!
Waar? Sowat 500 m oos van Calitzdorp – die afdraai na regs word op die R62 aangedui.
Kontak 044 213 3314;
• By die Calitzdorp-kelder kry jy buiten port ook witmuskadel, rooimuskadel, soet hanepoot en goue jerepiko.
Waar? Draai uit die hoofstraat suid in Andries Pretoriusstraat en hou reguitaan – die kelder is aan die regterkant.
Kontak 044 213 3301
Dié drie kelders is deel van die Klein-Karoo-wynroete en jy kan by enigeen nog inligting oor die ander kry. Calitzdorp het ook boetiekwynplase – hoor by die toerismekantoor ( 044 213 3775) in Voortrekkerstraat waar hulle is.