Yvonne vereer, Eden-span spog by SA Tweekamp

Yvonne McKay (links) ontvang haar toekenning van Blackie Swart, president van SA Tweekamp. (Foto verskaf)

DIE Highgate Eden Tweekampspan het die seisoen op ’n hoë noot afgesluit met sy deelname aan die RB & Son SA Tweekampkampioenskap wat op 1 en 2 April in Gqeberha in die Oos-Kaap in reënerige toestande afgehandel is.

Volgens Dave van der Walt, operasionele bestuurder van Eden Twee-kamp, het ’n rekordgetal van 865 atlete van veertien provinsies aan die byeenkoms deelgeneem, met atlete tussen 8 en 78 jaar jaar oud wat voor ’n groot skare mekaar die stryd aangesê het.

Van der Walt sê die Edenspan het gewys dat, ten spyte van sy tekort aan meer senior atlete, hy steeds sy stem kan dik maak teen die groter provinsies.

Die span het naas die WP, Boland en OP die vierde plek behaal.

Eden spog ná die byeenkoms met twee SA kampioene – Benjamin Bond (seuns o.9) en Annabel Grutter meisies o.13).

Buiten hierdie goue medaljewenners het Johan Windt (mans 60+) ’n silwer en De Wit Botma (junior mans) ’n brons medalje gewen.

Petro-Marie Fourie (meisies o.19), Mandi Wallace (vrouens 60+), Marilyn Orren (vrouens 70+) en Mike McDonald (mans 70+) het die podium net-net gemis met hul uitstekende vierde plekke.

Altesame 18 nuwe Eden-rekords is by die byeenkoms opgestel.

Eden-skole het ook volgens Van der Walt hul staal gewys; ses skole van die distrik, die meeste van alle provinsies, het gekwalifiseer om deel te neem.

Die Hoërskool Outeniqua is as die wen-hoërskool aangewys, dus die beste tweekamp-hoërskool in Suid-Afrika.

Buiten hierdie prestasies is Benjamin Bond ook aangewys as die junior Victor Ludorum van die byeenkoms. “Dit is voorwaar ’n prestasie om die beste junior seunsatleet te wees!” sê Van der Walt.

Yvonne McKay, ’n ou staatmaker vir Eden Tweekamp volgens Van der Walt, is ook deur SA Tweekamp vereer met die Honoris Causa-toekenning vir uitsonderlike diens gelewer aan tweekamp in Suid-Afrika.

Die voorsitter van Eden Tweekamp, Stephnie McKay, is weer as nasionale keurder verkies.