Louis en Liebe presteer nasionaal

Louis Venter (links) en Liebe Oosthuizen is Langenhoven Gimnasium se trots nadat hulle uitstekend presteer het op nasionale vlak. Foto: Stefan Skapie Goosen

TWEE leerders van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn het tydens die Maart-skoolvakansie gaan naam maak op nasionale vlak, onderskeidelik in baanfietsry en tennis.

Eerste aan die beurt is Louis Venter (16), wat met sy eerste professionele baanfietsrybyeenkoms nog, as deel van die o.19 Wes-Kaapspan, ’n silwer en brons medalje gewen het – dit saam met sy span. Hulle het silwer in die “team pursuit” behaal, en brons in die “team sprint”.

Louis, wat sê dat hy eintlik meer van ’n bergfietsryer is, het homself verstom toe hy tydens die vakansie by die Velodrome in Bellville, Kaapstad, teen ryers met baie meer ondervinding as hy gaan meeding het.

Hy sê, heel nederig, dat sy vertoning hom self geskok het. “Dit was ’n goeie gevoel, want die ander ouens is beslis vinnig. Die ondervinding was ook baie goed vir my, en tans is ek die jongste in my ouderdomsgroep,” sê hy.

Wat sy prestasie nog groter maak, is dat hy nie soos ander ryers ’n baan hier naby het waar hy kan oefen nie, dus oefen hy in die strate en paaie om Oudtshoorn.

Die fietse wat vir hierdie fietsren gebruik word, sê Louis, is baie anders as ’n bergfiets, en dit verg dat jy nogal baie moet aanpas, omdat hierdie baanfietse slegs een rat het, en geen remme nie.

“Jy kan ook nie ophou trap nie, so jy moet net aanhou, maak nie saak hoe moeg jy is nie!” skerts hy.

Die volgende toekomstige sportster, Liebe Oosthuizen (17), maak reeds ’n geruime tyd opslae op die tennisbaan.

Sy het tydens die skoolvakansie as deel van die SWD-tennisspan in Pretoria gaan deelneem aan die Tennis Suid-Afrika Inter-Pro-toernooi waar sy na aanleiding van haar indrukwekkende vertoning in die SA span opgeneem is.

Wat dit nóg meer indrukwekkend maak, is dat Liebe as skoolleerder reeds in die seniorspan speel, waar haar teenstanders soms ’n hele paar jaar ouer as sy is.

Die beskeie Liebe vertel dat sy tydens die toernooi nie al haar wedstryde gewen het nie, maar voeg by dat sy enkelspel-, dubbelspel- én gemengde dubbelspelwedstryde moes speel. “Dit gaan nie oor die wen nie, maar hulle hou ’n mens dop tydens die toernooi,” sê sy.

Dit beteken nou dat Liebe die kans gaan kry – met haar eerste insluiting in die nasionale span – om die immergewilde Wimbledon Tennistoernooi in die Engeland sal bywoon, in Junie vanjaar.

Al gaan sy nie self meeding nie, gaan die span bietjie oefen en die toer­nooi oor die algemeen kan beleef.

Sy vertel dat sy haarself nie op die oomblik daar sien speel nie, maar sy sal graag ná skool steeds tennis wil speel.

Liebe vind haarself in die top-15 tennisspelers in Suid-Afrika. (Deur Stefan Skapie Goosen)