Kommer oor diefstal by dié rioolwerke

DIEFSTAL van toerusting van Calitzdorp se rioolwerke veroorsaak onaangename probleme
Rioolpompe en koperkragdrade word tans gesteel om as skrootmetaal verkoop te word, dit ten koste van dienslewering aan die gemeenskap..

Hannes April kla: “Kyk hoe lyk die plek. Dis onder rioolwater. Dit stink. ’n Mens raak mos naar van ander mense se riool wat hier uitspoel. Die kinders kom speel soms in die rioolwater. So kan dit nie aangaan nie.”

Inwoners het onderneem om die skuldiges aan die pen te laat ry. “Ons kan mos nie skade ly as gevolg van diewe nie. Dis dwelmverslaafdes wat die rioolwerke so besteel. Ons kan nie altyd die munisipaliteit die skuld gee nie,” het ’n man wat anoniem wil bly, gesê.

Luidens ’n verklaring van die munisipaliteit toon die skuldiges geen respek vir die munisipale infrastruktuur wat ’n broodnodige diens aan die gemeenskap lewer nie. “Koperkabels van dui­sen­de rande is gesteel. Ons kan groot rioolprobleme in die gesig staar. Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om nie gesteelde goedere te koop nie maar dringend die polisie in kennis te stel.” (Deur Deon Meyer)