Nuwe uithourit bring meer geleenthede vir ruiters

’n Oomblik uit ’n vorige perdeuithourit. (Foto verskaf)

’N NUWE perdeuithouritklub wat in Januarie vanjaar gestig en geregistreer is, en wat in sy eerste maand van bestaan reeds meer as 35 lede bygekry het, hou van Vrydag af sy eerste uithourit oor 40 km buite De Rust.

Hierdie uithourit, die KBBO De Rust Uithourit, is dan ook ’n nuwe uithourit op die kalender, wat deelname aan sulke byeenkomste meer toeganklik vir meer ruiters van die Klein Karoo-omgewing gaan maak.

Daar is volgens die Outeniqua Uithouritklub se sekretaresse, Angelique Erasmus minstens 50 ruiters wat aan die klub se eerste rit gaan deelneem. Die uithourit begin 14:00 Vrydag (8 April) met ’n 40 km-roete, wat deelnemers van die mooiste tonele uit die De Rust- en Uniondale-omgewing gaan wys. Volgens Erasmus is Saterdag (9 April) die groot dag, en word benewens die 40 km-rit ook 80 en 120 km-ritte aangebied – ruiters en hul perde voltooi dié afstande in een dag, vertel sy. Die klub, en so ook die uithourit, is volgens Erasmus ten volle geregistreer by die Endurance Ride Association of South Africa (ERASA), en die Western Cape Endurance Ride Association (WCERA), wat beteken dat deelnemers hier kan meeding om te kwalifiseer vir die nasionale en immergewilde byeenkoms in Fauresmith. Oudtshoorn se eie Lara en Nico-Meyer le Roux, wat reeds jarelank as uithouritkampioene op sportblaaie pronk, neem gereeld in Fauresmith deel, en sal ook in aksie wees tydens die Outeniqua Uithouritklub se De Rust Uithourit.

Erasmus vertel dat die klub reeds sedert Januarie swoeg en sweet om die nuwe uithourit op die been te bring. “Ons het alles wat ons moontlik kan nodig hê; van mediese personeel, veeartse, waterkrippe op die roete en natuurlik iets vir die ruiters ook! Ons het puik borge wat sedert die begin aanboord gekom het. Hulle het net ingespring en deel geraak van die uithourit, en sonder hulle sou dit nie moontlik wees nie,” sê sy.

Perdeuithouritte is volgens Erasmus eintlik ’n sport met baie tegniese aspekte. Sy sê perde word gereeld deur veeartse ondersoek, word spesiale toerusting gebruik, en is daar ook afkoeltye vir die perde. (Deur Stefan Goosen)