Yolande trotseer Redstone MTB and Trail Run

Oudtshoorn se eie Yolande de Villiers glimlag al die pad eindstreep toe. Foto: Gerber Sports Photography

OUDTSHOORN se eie ystervrou wat vroue-fietsry domineer, Yolande de Villiers, het die naweek se dames-fietsren van die Redstone MTB and Trail Run gewen!

Die byeenkoms, wat buite Oudts-hoorn deur Jakhals Events aangebied word, sluit bergfietsrenne en “trail runs” van verskeie afstande in.

De Villiers het koning gekraai, of is dit nou koningin, in die 67 km-ren.

Sy skryf op haar Facebook-blad dat dit ’n fantastiese resiesnaweek was.

“Dit was ’n baie koue begin, maar die wedrenne was baie warm met ’n groot veld ryers. (Ek is) gelukkig om te kon wen. Altyd ’n plesier om die podium te deel met die sterk en deftige Elrika Harmzen in tweede en Karla Stumpf in derde. Dis so lekker om te sien hoe jy net sterker en sterker raak, Karla! Hou so aan!

Volgens De Villiers het haar fiets “geloop soos stroop”.

Verder het bergfietsryers deelgeneem aan 23, 49 en 68 km-fietsrenne terweel drawwers aan ’n 5 km-prethardloop en ’n 9 en 16 km “trail run” deelgeneem het. (Deur Stefan Skapie Goosen)