Ovaalbaan-aksie: 9 drywers van Oudtshoorn deur na SA’s!

Saterdag (6 Mei) se ovaalbaanwedrenne op RedRock Raceway buite Oudtshoorn, voorheen bekend as die Arnold de Jager Ovaalrenbaan, was aksie-belaaid met modder van die baan wat teen die talle toeskouers geskiet is soos die voertuie om die baan gejaag het. Die byeenkoms het ook gedien as ’n kwalifiserende wedren vir die Suid-Afrikaanse Kampioenskap wat op 23 September vanjaar op Oudtshoorn aangebied sal word, en is deur drywers van wyd en syd bygewoon.

Met Saterdag se wedrenne het nege Oudtshoorniete gekwalifiseer om aan die SA’s deel te neem. Hulle is Clive Meyer (Hotrod-klas), Lucius Fourie (V8’s), Coenie Meyer (V8’s), Hendrickus Botha (2.1-klas), André Fouché (2.1-klas), Arno van Wyk (1660’s – foto regs bo is Van Wyk in aksie), Martin Deiner (1660’s), Leon Fouché (1660’s) en André Keller (Heavy Metals). Van Wyk in die D114-kar is ook die enigste Oudtshoorniet wat sy klas gewen het.

Volgens Dirk van der Westhuizen van die Oudtshoorn Motorklub is daar net vyf klasse waaraan drywers tydens die SA’s kan deelneem, met minstens een Oudtshoorniet in elkeen van daardie klasse. Foto’s: Stefan Skapie Goosen